SAMBREEL VAN GEBED

Die beste voorbereiding wat ‘n mens vir enige saak of situasie kan doen is GEBED. Dis ‘n voorreg en ‘n vreugde om ons probleme Syne te mag maak, en Hom dan te loof en te prys vir Sy groot liefde, genade en uitkoms. Dis ‘n groot stap in ons geestelike lewe om te leer, om Hom met oorgawe te vertrou, met alles wat mag opduik in ons lewens.

Nou die dag was ek gevang in ‘n skielike, skelm reënbui. “Ag, waar is my sambreel?” het ek gebom. Pap-water-sop-nat! Skoene sjwies-sjwies, haartjies soos ‘n mussie op my kop. Klere kleef onbetaamlik aan alles vas. My handsak glad soos ‘n seekoei. Dadelik voel ek die sniffels in my neus, want nou waai daar ‘n ongeskikte, koue windjie.

Als, my eie skuld. Ek was onvoorbereid, kortsigtig, uitsigloos, en ek het nie na die weerberig geluister nie. Gelukkig was hierdie situasie maklik om te hanteer. Gou opgelos met ‘n warm bad, en ‘n lekker handdoek en skoon klere. Ander situasies kan lewensbelangrik wees. Gebed is ‘n geestelike sambreel wat ons teen die magtige aanslae van die Vyand kan beskerm. Dit is ons kragtigste wapen.

Laat ons saam hierdie Goddelike sambreel oop maak oor onsself, ons geliefdes en ons land. God vra ons nie om die saak in ons eie krag aan te pak nie. Hy het ‘n Goddelike krag tot ons beskikking gestel om ons swakhede en moeilikhede te oorkom (Fil 2:13).

Die “storms” in ons lewe: Die blootstelling aan bose magte en listige aanslae van die duiwel (Ef 6:11). Brandpyle van die bose bring negatiwiteit, moedeloosheid, woede, angs, vrees, willoosheid, verwarring, depressie stres en verwante siektes.

Wat maak die sambreel van genade, beskerming ens vir ons oop? 1 Pet 5:7-8, Jak 4:7, Jes 1:18-19

Kom ons gebruik God se kagtige wapens om saam vestings te vernietig. Die Heilige Gees sal jou bystaan en beskerm en Sy sambreel oor jou hou.

Sy glorie-lig sal uit jou straal.

Tannie Anen (Noord-Wes)

This entry was posted in Uncategorized. Bookmark the permalink.