Marlene de la Gey

Marlene de la Gey

Dit was ‘n moeilike naweek. Ons het weke laas water in ons krane gehad, genadiglik het meeste mense in ons omgewing ‘n tenk wat elke nag deur die munisipaliteit vol gepomp word. So wanneer ons wil bad of stort, of die toilette gebruik, gaan ons uit, sit die pomp aan en ons het water. Dan maak ons wasbakke en houers vol, en gaan sit maar weer die pomp af om krag te bespaar.

Maar gister het ons ook nie krag gehad vir die hele dag nie, so ons kon ook nie die pomp laat werk nie. Die hitte was verswelgend en ons kon nie lugversorgers gebruik nie. Nogsteeds is ons baie bevoorreg dat ons in een van die plaaslike eetplekkies met ‘n kragopwekker kon gaan lafenis soek onder lugversorging, met ‘n heerlike melkskommel. Maar toe het ons so effense windstormpie en ‘n boom waai om, en ‘n sekere deel van die dorp het tot nou nog nie krag en water nie.

My dogter laat weet vanoggend dat hulle nou vir twee dae lank nie die toilette kon spoel nie. Dit is werklik onaangenaam en onhigiënies.  Daarom wil ek graag vir mense, wat met die beste bedoelings ter wêreld gedink het in tye van anargie gaan hulle in hulle huise bly en hulself en die omgewing met hul wapens beskerm, vra om twee keer te dink.  As jy vasgekeer is in jou huis en krag en watervoorsiening word gestaak, het jy binne twee dae, hoogstens drie dae, groot probleme! Die toilette ruik teen daardie tyd erg, (wie het al water agter in ‘n toiletbak getap? Daardie bak moet baie water in hê om die toilet net een keer te kan spoel!)

Die kos in jou vries- en yskaste begin nou afgaan en sal binnekort baie sleg ruik, en as jy in jou huis vasgekeer is sal jy dit nie buite kan gaan weggooi nie. Een of ander tyd sal jou lampe, gas, kerse ens klaar raak en hoe maak mens vuur in jou huis? Jou selfoon se battery is lankal pap, jou kos en water raak min. Om dan eers te besef jy kon makliker by ‘n veilige area oorleef en probeer ontvlug, is selfmoord! Jy gaan dit baie moeilik regkry! Baie mense het solarpanele of kragopwekkers, maar nie almal is so bevoorreg nie.  Maar al hierdie “probleempies” is nietig in vergelyking met die gevaar waarin jy en ‘n groepie mense in jou omgewing verkeer teen ‘n oormag honger, desperate mense wat jou kos, water, lewensmiddele en lewe bedreig.

Ons is al so gekondisioneer om aan hierdie gebrek aan dienslewering gewoond te raak, dat ons dit as normaal beskou! Die mense wat jare al in hierdie omgewing bly, leef so sonder water sonder om te kla. Ons het al voorsiening gemaak vir “load shedding”, ons weet al, kom wat wil, ons moet ten minste ‘n hospitaalplan hê sodat ons nie wanneer ons siek word, in ‘n provinsiale hospitaal hoef te beland nie. Ons sien daagliks hoe mense bande brand en opstandig raak oor verskeie dinge, en gee nie meer ag daarop nie, want omdat ons dit daagliks sien, is dit nie meer vreemd nie. En so word die “onaanvaarbare” omstandighede vir ons ‘n leefwyse en aanvaarbaar.

Die Suidlanders is vir my soos die kaptein van ‘n skip. Ons mense is almal op daardie skip. Ons kaptein het lank gelede gesien ons vaar in waters waar daar baie seerowers is wat ons lewens bedreig. Planne is in werking gestel en die reddingsbootjies is sorgvuldig aangevul, en die mense op die skip word gewaarsku dat as seerowers ons sou aanval, die reddingsbootjies gereed is. Maar die mense kyk rond en sien geen seerowerskepe op die horison nie, en verontagsaam die waarskuwings. Baie dink hulle sal met die wapens en kanonne wat op die skip is, hulself kan verdedig en die gate in die skip toestop.

 

 

 

Dan, wanneer die kaptein waarsku en sê daar is seerowerskepe op die horison wat in ons rigting vaar, sal die wat ag geslaan het in die reddingsbootjies klim en wegvaar. Ander sal op die skip bly om eers te sien of daar werklik gevaar is, en as daar is sal hulle liewer die skip wil beskerm. En dan, wanneer die seerowers toeslaan, en hulle agterkom dit is ‘n onbegonne taak, is die reddingsbootjies reeds weg en beland hulle in die hande van die seerowers.

Ek glo en weet die Vader is Almagtig en kan ons uit enige omstandighede red, maar dit is nie ‘n rede om nie voor te berei nie.  Hy verwag dit van ons, Hy het mos vir ons rede en verstand gegee. Doen wat jy kan, en dan sal Hy doen wat jy NIE kan nie. As jy binne in die gevaar is en jy tot Hom bid vir redding, sal Hy nie dalk vir jou sê: hoeveel keer het Ek deur my gehoorsame kinders jou gewaarsku en vir jou ‘n reddingsbootjie uitgegooi en jy wou nie inklim nie?