Geestelike Oorlogvoering Deel 3

light in the darkAs kind was ons mos bang vir die ding in die donker. Ons was reg! Daar is ‘n ding wat net deur God se Lig verdryf word.  Daarom sê die Woord dat ons in die Lig moet lewe. (2 Pet 1:19; 2 Kor 4:3-6; 1 Joh 1:5 ens.)

Ons weet dat ons daar in die donker in ‘n bloedige geestelike oorlog betrokke is. Die aanslag moet gestuit word en die wonde moet so genees en verbind word deur God se krag en die Heilig Gees se inspraak dat ons net geneesde wonde kan wys. Ons “scars” sal vir ander onder aanslag kan wys hoe deeglik God kan oorneem. God is volkome aan ons kant. Dis juis hoekom Hy vir Jesus gestuur het.

Die Koninkryk van die Bose is hoogs georganiseerd. Hulle ken ons en ons swakhede baie goed, en buit dit uit. 1 Pet 5:8 sê tog duidelik:  “Wees nugter, wees wakker! Julle vyand, die duiwel loop rond soos ‘n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind (vers 9) Bly standvastig in die geloof en staan hom teë.”

Soms gaan haal hy pynlike ondervindinge so diep uit ons verlede uit dat ons dit nie kan onthou nie, maar die emosionele wonde daarvan nog dra. Min mense word sonder sulke wonde soos bv. verwerping, minderwaardigheid, ens groot. Of die vyand vat ‘n “ding in die donker” en verdraai dit tot dit ‘n wond word wat infeksie het. Dan kan die Heilige Gees kom om ons Geneesheer te wees.

2 Kor 10:3 stel dit baie duidelik: “Natuurlik leef ons in ‘n menslike liggaam, maar ons voer nie die stryd met menslike wapens nie. (vers 4) Die wapens van die stryd is nie die wapens van die mens nie, maar die kragtige wapens van God wat vestings kan vernietig. Daarmee vernietig ons die redenasies (vers 5) en die hooghartige aanval wat teen die kennis van God gerig word. Ons neem elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak. (vers 6) Ons is ook gereed om met elke ongehoorsaamheid af te reken sodat julle eie gehoorsaamheid volkome is”

Die oorlogsveld waar hierdie bloedige geveg plaasvind is natuurlik in ons gedagtewêreld (sielsdimensie). En dit is ‘n geveg tussen lewe en dood. Kyk weereens na Deut 30:19-20. Kies om ‘n einde aan die vyand se inspraak in jou lewe te maak.

Geen gelowige is uitgesluit van die aanvalle en aanslae van die Satan en sy trawante nie. Maar beskerming en oorwinning is verseker deur Jesus Christus. Net geestelike volstruise sal die gevaar van hierdie aanvalle ignoreer en nie die outoriteit van die Naam van Jesus aangryp nie.

Die “ding” wat in die donker pyn en chaos gesaai het, moet ontbloot word sodat ons geneeste soldate vir God kan wees.

Die Heilige Gees sal ons bystaan en dra, al wat ons moet doen is om gewilliglik my gesondmakings proses aan te pak.

Liefde, Tannie Anen