KLIPSTAPELOns het ‘n wonderlike en propvol Geloftedag by die Doornbult Konsentrasiekamp gehad.

Oom Adriaan Snyman het ons vertel van besonderse nuwe gesigte van Siener wat onlangs in Zimbabwe ontdek is. Gesigte wat nog nooit gepubliseer is nie en wat weereens bevestig dat ons in die regte rigting oppad is.

Tannie Rina wat die konsentrasiekamp bestuur het ons van die tragiese verhale vertel wat daar plaasgevind het. Die brutale volksmoord op die Boervroue en -kinders deur Britte laat mens weer opnuut besef hoe groot die verantwoordelikheid is om ons Skepper en ons geskiedenis te eer. Hierdie land is deur ons voorouers met baie bloed en trane gekoop.

Oom Elias Van Rensburg van Oudtshoorn het weer ‘n ongelooflike praatjie aangebied op Geloftes en die belangrikheid daarvan. Die gebeure rondom Bloedrivier is ‘n verstommende verhaal en laat mens weer trots voel om ‘n Geloftevolk te wees.

Gustav het daarna ‘n baie kragtige boodskap gebring. Ons weet dat as ons as volk nie die liberale leuen afskaf en die ou weë soos in die Woord volg nie, ons nooit die seën van die Vader sal ervaar nie.

Ons het ook die voorreg gehad om ‘n baba wat in die konsentrasiekamp gesterf het en saam met ander begrawe is, se beendere ter aarde te bestel.

‘n Enorme volgepropte tent het toe met erns en toewyding tou gestaan om elkeen ‘n klip vir ‘n klipstapeling te lê. Die Gees was tasbaar teenwoordig en het in elkeen van ons se harte gespreek.

Ons sal binnekort videos van hierdie onvergeetlike dag op ons webwerf plaas.

Bestuur