In Erns

klipstapelingDie Gelofte is Woensdag. As u nog nie die erns hiervan besef nie, is dit uiters belangrik dat u die vorige artikels op die webblad gaan lees. Hierdie jaar is ‘n maak of breek jaar vir die Boervolk en die Gelofte is die sleutelpunt. Ons gaan hierdie jaar ‘n klipstapeling hou naby Vanderkloof waarby meeste Suidlander Bestuurslede betrokke gaan wees. Terselfdertyd gaan daar by tientalle plekke regoor Suid Afrika dieselfde gedoen word. Die Oorkonde, ‘n dokument wat bevestig dat ons mense in die gees die Paardekraal Gelofte erken en “Geestelik” teenwoordig is, is reeds deur talle onderteken en afgestuur.

Die omstandighede waarin ons onsself bevind veroorsaak gereeld dat mense nie fisies teenwoordig kan wees by so ‘n klipstapeling nie. Vir die wat die vorige skrywes gemis het: Die klipstapeling is ‘n voorneme. As jy ‘n klip neerlê getuig daardie klip dat jy twee dinge onderneem. Eerstens om ‘n lewe van heiligmaking te leef wat sal lei tot geregtigheid en verootmoediging op ‘n tyd wat die Vader bepaal. Tweedens, dat jy onderneem om voortaan die Geloftes te eerbiedig en te onderhou. Ons praat hier van al drie Geloftes wat die Boervolk verbind. As volk het ons Geloftes gemaak in die Kaap deur Jan van Riebeeck op 6 April, by Bloedrivier op 16 Desember en die Paardekraal Gelofte ook op 16 Desember.

Ons voorouers se Geloftes plaas ons in die skuld. Dit plaas ‘n verpligting op ons. Jy is ingebore in ‘n skuldlas teenoor die Vader. Ons moet vry wees van alle skuld, niemand niks skuld nie behalwe ons Skepper. Daar is talle beloftes in die Woord en in hedendaagse profesieë. Daardie beloftes kan slegs op aanspraak gemaak word, as jy die skuldlas teenoor ons Skepper aanvaar en jouself vrywillig daaronder plaas. Laat geen mens ons skuldlas teenoor ons Skepper bevraagteken en terselfdertyd aanspraak op die beloftes vir ons as volk maak nie.

As jy uitgesluit word op die een, is jy uitgesluit op die ander.

Soos ons voorheen gesê het, baie mense kan nie in persoon die klipstapeling bywoon nie. Die Gees het ons gelei om goed te keur dat enige persoon wat ‘n klip wil lê in erns en insig van wat dit beteken, iemand kan vra om namens hom ‘n klip te lê. Moenie hierdie aksie gering ag nie. Om ‘n klip te lê op hierdie eerskomende Geloftedag dra geweldige geestelike verantwoordelikheid.

Mag die Vader u lei in die keuse, sou u dit uitoefen.

Suidlanders Bestuur