klipstapelingDie Geloftedag is 8 dae weg en nog nooit tevore het ons die belangstelling en opgewondenheid onder volksgenote gesien soos wat tans heers nie. Ons het reeds bevestiging gekry van families wat vanaf Holland en Kenia vlieg om die Gelofte saam met ons hier naby Vanderkloof te hou.

Hierdie berig is ‘n volksberig, nie ‘n Suidlander berig nie. Ons wil dus vra dat u hierdie berig aanstuur per epos, whatsapp en enige vorm van sosiale media.

Die Oorkonde wat op die Suidlander webblad beskikbaar is, is ‘n dokument wat as getuie dien dat u die Paardekraal Gelofte op dieselfde dag as die Bloedrivier Gelofte erken. Die Paardekraal Gelofte is deur die Boervolk gemaak en moet onderhou word. Alhoewel almal weens praktiese redes nie by Paardekraal kan wees nie, onderteken hulle dan ‘n Oorkonde wat dien as getuie dat hulle in die gees wel die Gelofte erken maar dit net op ‘n ander plek hou – oorspronklik sou die volk elke jaar by Paardekraal bymekaar kom.

Elkeen wat hierdie berig lees moet asseblief die Oorkonde gaan invul en ‘submit’ of terugstuur na ons by navrae@suidlanders.co.za. Ons gaan dit dan op 16 Desember by Paardekraal aflewer.

Dit is duidelik dat daar ‘n groot verwagting hierdie jaar onder volksgenote heers. Regoor die land gaan mense die Gelofte hou en tientalle het reeds bevestig dat hulle ook ‘n klipstapeling gaan hou. Die klipstapeling is ‘n persoonlike getuie van jou belofte om toekomstige Geloftedae te hou en om ‘n lewe van heiligmaking te leef.

Vir die wat ‘n klipstapeling wil hou, wil ons vra om nie enige name of merke aan die klippe aan te bring nie (Oorspronklik sou mense hul name daarop skryf.) Daar is tydens die kongres besluit om dit nie te doen nie, aangesien dit verweer, messelwerk nie daaraan kleef nie en omdat die klip en die aksie getuig van jou toewyding, nie jou naam nie.

Bring die belangrikheid van hierdie jaar se Geloftedag onder die aandag van u vriende en familie. Daar is ‘n verwagting dat iets groots in die gees hierdie jaar gaan plaasvind. Wat mense nou in die gees ervaar, is dat hierdie ‘n laaste kans is om jouself te posisioneer om in geregtigheid voor die Vader te staan. Dinge gaan binnekort so hand uitruk dat ons net op een area standvastig en hoopvol sal kan wees, en dit is dat die Vader Hom oor ons sal ontferm, lei en beskerm.

Groete,

Suidlander Bestuur