cross-danger1Meeste mense staan en wankel in hierdie moeilike tyd. Die Vader sê ons moet net staan, die wankel is vir ongeredde mense.

In die boek Haggai waarsku die profeet dat die volk moet ophou om hul eie huise te bou terwyl die tempel in puin lê. Die tempel word herbou in die jare 520 tot 516VC, maar daar is ‘n ander soort tempel ook wat loop en praat en die Vader se beeld moet uitstraal.

Ja! Hier staan dit in 1 Kor 6:19: “Of besef julle nie dat julle liggaam ‘n tempel van die Heilige Gees is nie? Julle het die Heilige Gees, wat in julle woon, van God ontvang en julle behoort nie aan julleself nie.” Vers 20 “Julle is gekoop en die prys is betaal, julle moet God  dus in julle liggaam verheerlik” Vers 16b “…Ons is immers die tempel van die lewende God.”

Ons getuienis wat ons uitstraal moet dus die Vader verheerlik en Sy lig laat skyn. Ps 18:29: “U Here, laat my lamp helder skyn; my God gee lig.”

As ons geestelik na Haggai 2:4 kyk, het die Vader se woorde aan Serubbábel en Josua (hoёpriester) ook ‘n diep geestelike implikasie vir elkeen van ons.

Haggai 2:4b: “… skep moed, en julle almal, burgers van die land, skep moed, sê die Here! Begin met die werk want ek is by julle, sê die Here die Almagtige…My Gees sal altyd by julle bly. Moenie bang wees nie!”

Haggai 2:18: “…let op!” Vers 19 “Is daar nog saad in die skuur? Tot nou toe het julle wingerde, julle vyebome, julle granaatbome en julle olyfbome nie gedra nie, maar van nou af sal ek voorspoed gee” (saad impliseer ons moontlikhede). Vers 23 “Daardie dag sal Ek jou vat, sê die Here die Almagtige…, want Ek het jou uitgekies.”

As ons die werk aan onsself aanpak en selfondersoek begin doen, as ons klaarspeel met innerlike wanklanke en die Gees innooi, sal ons vrugte dra en ander nader trek. Ons moet ons eie lewens begin evalueer, lees weer Jes 55:1; Jes 1:18, ens.

2 Kor 13:5 “Stel julleself op die proef en ondersoek julleself of julle in die geloof lewe.” In Matt 13:3-9 vertel Jesus die storie van die saaier. Ons ken dit. Berei jou grond voor om die saad te ontvang.  Vers 9 sê “Wie ore het om te hoor, laat hom hoor!”

Die koopprys is betaal, ons is duur gekoop. Moenie bang wees nie.

Liefde, Anen