As ons op reis gaan word daar noukeurig beplanning gedoen. Die sente word omgedraai, die motor word nagesien, die oorblyplekke word beplan en bespreek, en, o ja, die padkos word voorberei. Heerlike yskoue hoender en frikadelle – maar toe eendag gooi ons jongste die geel van die eier dat dit so hop met die woorde: “Ek eet nie die pit nie!”

Die kinders se opgewondenheid grens aan stoutheid. “Skuif op! Haal jou elmboog uit my oor uit!” Om een of ander rede het ons kinders geveg om in die middel te sit. Dan hang die wenner soos ‘n aasvoël hier tussen ons om alles eerste te hoor en te sien.

Hier is ‘n heerlike skrif vir die wat op reis is en vir die wat tuis bly. Ps 139:3: “Of ek reis en of ek oorbly, U bepaal dit. U is met my paaie goed bekend.

Ps 121:8 En die Lewende Bybel sê: “Hy sal jou beskerm as jy op reis gaan en op jou pad terug ook, van nou af aan vir altyd.

Pragtige beloftes, maar nie vanselfsprekend vir almal nie. Dit spreek van gebed en smeking, van volle vertroue in ons Vader se voorsiening.

Die nuusberigte wys dat ons Sy bonatuurlike beskerming nodig het. Dit is hier waar ons verhouding met die Vader die werk vir ons doen, want dit is mos konstante gesprek met Hom.

Ps :25:15: “My oë is altyd op die Here gerig, want dit is Hy wat my voete uit die vangnet sal hou.” U moet asseblief die hele Ps 27 deurlees, want dit is presies waaroor dit gaan. Die Amplified is ook pragtig. Ps 27:5 “For in the day of trouble He will hide me in His shelter; in the secret place of His tent will He hide me; He will set me high upon a rock.

Vir wie sal Hy die voorreg gee? Vir elkeen wat Hom eer en vertrou en ‘n noue vriendskap met Hom het.

Fil 4:6: “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.”

Ons volkome vertroue in hom sal ons veilig bewaar.

Groete

Anen