from-the-rooftopEk kry ‘n oproep van ons groot vriend, Danie. “Dit moet julle eers hoor!” sê hy opgewonde. Hy het ‘n stokou karretjie wat deur die Here se genade hom jare al goeie diens lewer. Hy sê hy sit die oggend so in sy kar en gesels met die Here. “Dankie vir my kar Here, maar die binnekant begin nou baie gehawend lyk, ek het nie geld vir al dié flenters-binnegoed nie. Kyk die ding is geskeur en daar kort knoppies en goed.”

Later die oggend stap ‘n man die winkel in. “Wie se motor staan hier voor in die straat?” vra hy. “Kom sluit gou oop.” Verbaas doen Danie wat hy vra, en daar vervang die man al die stukkende goed in sy motor. “Hoe het jy geweet?” vra Danie. “Ek doen net wat die Here vir my sê” antwoord hy. Dit is wat die Here van ons verwag: glo, luister, gehoorsaamheid en God sal die wonderwerk laat plaasvind.

So, kan ons elkeen getuig van die wonderwerke in ons lewens. Onthou: God het die mag, Hy het die deernis. Ons moet net die geloof behou. (Exodus 14:17)

Diep in ons gedagtes moet daar totale vrede en geloof heers. Moenie vrese daaroor dink en troetel nie. Rom 12:2 moet ons nooit vergeet nie. “Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe…” Dit is ‘n stap van geloof wat die vyand laat sidder.

Ps 112:7: “Vir slegte tyding is Hy nie bevrees nie, hy is gerus, hy vertrou op die Here.” Vers 8 “Hy voel hom veilig, hy is nie bevrees nie…” Vers 10 “Die goddelose sien dit en raak ontsteld…”

Ons as gelowiges het ons volle maat van moeilikhede, maar ons ontvang krag om staande te bly, m.a.w ons steun nie meer op eie kragte nie, maar op God se wonderwerkende krag.

NB. 2 Kor 10:3 tot 6 en 2 Kor 11:3 (gaan lees asb self)

Met ander woorde: Onttroon jouself, (dis in elk geval ‘n swak regering) plaas God op die troon daar in jou hart – gedurig. Dan sal jou vrugte sigbaar, eetbaar en bruikbaar wees – want ‘n boom word immers aan sy vrugte geken (Matt 12:33b)

Wonderwerke begin dus daar in ons diepste gedagtes waar ons glo en saamstem met ons God. Waar ons hom loof en prys, en waar ons vrees en negatiwiteit se tjank aftrap. Een enkele sin of woord in vaste oortuiging en geloof gespreek, kan ‘n ander se gesindheid verander.

“Daar is nie ‘n monster onder die bed nie, kom sit net die LIG aan, dan kyk jy self!” (Of so-iets)

Liefde Anen