Netwerk24 publiseer hierdie naweek ‘n heel komiese artikel. Neem kennis dat hulle dit nie intensioneel komies bedoel het nie, hierdie mense kan so lieg dat hulle mekaar begin glo.

Die artikel genaamd “Rapport sê: Sonder die waarheid sak die son” word begin deur die een voorbeeld na die ander te noem van hoe goeie eerlike joernaliste die waarheid ontbloot het. Ironies genoeg, spreek die een voorbeeld na die ander van ANC of anti-witgeldmag individue wie se geraamtes uit die kas gehaal word.

Dit sluit dan af met hierdie selfpoetsende paragrafie: “Die waarheidsprojek van joernaliste – dikwels idealiste – word al hoe belangriker namate hierdie demokratiese staat verder in ‘n moeras van wanfunksie sink, en namate die betroubaarheid van inligting in die digitale era al hoe moeiliker word om te pyl. Vir lesers, regslui en alle ander landsburgers wat joernaliste met die blootleggingstaak help, wetende dat dit tussen ons en anargie staan, spreek ons vandag ons oorwoë dankbaarheid uit.

Probeer terugdink wanneer laas u sulke snert gelees het. Is dit dieselfde mediamasjien wat die woord anargie vir 10 jaar nie wou gebruik nie. Dieselfde media wat my en jou twee dekades terug oortuig het van die wonderlike vooruitsigte van die reënboognasie. Dieselfde media wat (soos dit tereg hierbo erken “dikwels idealiste”) geen negatiewe ding oor die reënboognasie wou publiseer nie. Is dit dieselfde media wat in die beginjare vir Gustav Müller en die Suidlanders as ‘n grap afgemaak het. Is dit hierdie media wat geen simpatieke woord oor die vals opgestelde, geprovokeerde en beliegde Boeremagsaak wou plaas nie? Dieselfde media wat vandag steeds die Suidlander naam nie eers in ‘n kommentaar op ’n artikel toelaat nie.

Dieselfde media wat enige behoudende konsep , selfs die van Donald Trump, nie die son gegun het om oor te skyn nie. Nou sê hulle sonder die waarheid sak die son en eien hulleself daardie waarheid toe.

Die media bestaan sonder twyfel as die grootste georganiseerde propaganda, disinformasie en lieg-masjien op aarde. Die breëstroom media het aan hulself die reg toegeeinen om ideologiese wêreldbeskouings te bemark, konserwatisme te versaak, die blanke skuldgevoel te bevorder, volskeie ideale goedkoop te maak en met daardie onverdiende mag te besluit wat reg en wat verkeerd is.

Iemand het eenkeer gesê dat joernalistiek die studierigting van keuse is vir elkeen wat dit nie in ‘n eerbare professie gaan maak nie. Die skade wat hierdie ideologies gedrewe, onbevoegde breëstroom media op idealistiese wyse, ten spyte van die werklikheid wat om ons afspeel, aanrig, is jammerlik. Dit is natuurlik te wagte dat dieselfde media homself in die media so sal sit en poets.