Shoe! Hierdie misleiding-ding plaas ‘n hengse las op ons skouers! Gladnie! Dink met hoeveel liefde en deernis rig en lei ons nie ons kleintjies nie. Ons herhaal die moets en moenies tot dit vasgelê is. Ek onthou die klein mannetjie wat met ‘jellybeans’ op sy wange gesê het: “Juffrou, my ma sê ek het verkoue!” Ek wou sê: “Could have fooled me!” Hy het duidelik nog nie by die sakdoek-proses uitgekom nie. Maar hy sal leer en hopenlik teen Gr 7 se kant die verantwoordelikheid baasraak.

Onthou hoedat die Vader besluit het om Jesus te stuur om die deur na vergifnis en kennis vir ons oop te maak. Sonder dit sou ons kwalik Sy koninkryk kon betree.

Ons moet raaksien dat die mens wat geestelik gesond is nie ‘n supermens is nie. Nee! Dis jy en ek en die buurman, en ons is vasgevang in ‘n verantwoordelikheid om almal om ons te beinvloed, te sleep, te bebid, selfs te boelie tot hulle met vreugde ‘n kind van God kan wees.

Die verhouding tussen die Vader en Sy kinders is opreg en liefdevol. Ons sal ervaar dat Hy net met opregte mense bemoeienis maak – Hy ken mos ons harte. Die Skrif noem vir Dawid ‘n man na God se hart. Hoekom? Omdat hy met belydenis en eerlikheid voor die Vader gekom het wanneer hy gesondig het. Kyk bv. Ps 69:7; Ps 26:2; en Spr 28:13.

Teenoor hierdie opregte wandel saam met God staan ‘n gees van ligsinnigheid. Mat 12:36-37: “…van elke ligsinnige woord wat die mense sê, sal hulle rekenskap moet gee op die oordeelsdag. Op grond wat jou eie woorde sal jy vrygespreek of veroordeel word.

Die woordeboek beskryf ligsinnigheid as oppervlakkig, sonder erns, onbedagsaam, sonder om aan die gevolge te dink. ‘n Christen se denke moet aan die Vader onderwerpe wees. Satan se doel is om ons denke te verduister.

Die gees van ligsinnigheid word gestuur met die doel om die Christen te beroof van ‘n noue verbintenis met die Vader, en om die kragtige effek van die evangelie te neutraliseer. Hierdie sonde van ligsinnigheid kan dikwels ongemerk in ons lewens insluip. Die Here het vir ons ‘n sin vir humor gegee, ook die vermoë om te lag en bly te wees. Maar wat Satan beoog met ligsinnigheid is om sataniese elemente in te bring waar hy toegang tot die hart van die Christen verkry.

Gelukkig is God Heilige Gees so getrou om ons dadelik sensitief vir dié onreinheid te maak. Ons moet nooit ons eerbied en warme kontak met die Vader op só ‘n manier verloor nie.

Baie groete

Anen