Ons elkeen straal ‘n invloed uit wat mense bemoedig (besiel, begeester of inspireer) of ons teenwoordigheid laat mense om ons terneergedruk, ontmoedig of neerslagtig voel. Wat voel mense wat van ons af wegstap? Is hulle verryk of verarm?

Ons invloed begin nie net deur te glimlag en ‘n paar onbenullighede te uiter nie. Aikona! Dit begin diep uit ons binneste, daar waar ons nou met gedagtes gesuiwer en voortdurende selfondersoek, die vyand ‘n bloedneus gee.

Die Vader is mos nou in beheer van my lewe. Ek nooi Hom in. Ek voer gesprek met Hom en Hy reageer positief. Gedagtes onder Sy beheer vloei nou met opregtheid by ons monde uit. En so dra ons die vrug wat by bekering pas (Matt 3:18; Matt 7:17-20; Matt 12:33-37)

As die groentetuin sy vrug suksesvol moet lewer, moet ek die graaf opneem, die onkruid verwyder en dit gereeld water gee. Onthou die vrug is nie altyd ‘n indrukwekkende toespraak of sendingwerk in die Verre Ooste nie. Dis meestal die gesindheid van ‘n noue verhouding met ons Heilige Vader wat deur ander raakgesien word.

Dit is dié gesonde vrug wat ons nou uitstraal aan mense om ons. En wat kry ons vir die gehoorsaamheid? Bonatuurlike kalmte en vrede (in die oog van die storm), ook onverklaarbare vreugde, liefe en al die ander vrugte van die Gees (Gal 5:22)

Die maan het geen vermoë om self te skyn nie. Dit weerkaats slegs die strale van die son. Partykeer ‘n helder volmaan of soms ‘n sekelmaan wat maar effentjies lig uitstraal. Dan kry ‘n mens die donkermaan. Dit het niks om te gee, of uit te straal nie.

My daaglikse geestelike plig is om die Vader se strale te onvang en dit dan uit te straal na ander, veral my huisgesin.

Spr 4:18,19: “Die pad van die regverdige is soos die helder oggendlig wat groei en sterker word… Die pad van die goddelose is soos die donker: hulle weet nie waaroor hulle sal struikel nie.”

Dit word vir ons duidelik dat die Vader van binne af na buite toe met ons werk. Die vyand werk van buite en probeer van binne om ons aan te val.

‘n Stokou motorkar kan oor gespuitverf word en blink nuwe bybehore kry, maar as die enjin siek is, beteken dit as voertuig niks. Dit mis die doel waarvoor dit gemaak is.

‘n Heel enjin sluit nie die moontlikheid uit dat daar fout kan insluip nie, daarom moet dit gereeld getoets en gediens word.

Ons doen dit deur gereeld ons gesindheid te bedink en ons gedagtes te ondersoek. 1 Kor 14:20-21 sê ons moet in ons denke volwasse wees. Met positiewe denke, herskep en vernuwe jy jouself. En ons leer onderskei wat die wil van ons Vader is. Lees Rom 11:2 asseblief..

As ons aanhou saamstem met die vyand as hy negatiewe beelde vir ons skilder dan kom ons op ‘n plek waar hy ons denke en dade reguleer.

Die Heilige Gees laat deur die Lewende Woord die mens dink soos God dink. Daarom moet ons die Woord eet.

Die Woord gee duidelik skrif oor die gedagtes en dade van goddelose mense.

Lees asb self die skrifte:

Ps 10:3-7; Jes 59:2-3; Jes 66:18; Jer 4:14; Luk 2:35. Daar is nog vele meer!

Die verdraaide denke van die Goddelose kom deur inspraak van die duisternis. Gesonde denke kom van God en ons verander volgens Sy heilige wil.

Die bewys dat sonde in die gedagtewêreld begin lê in Ps 141:4 “Hou my gedagtes weg van verkeerde dinge dat ek nie in sonde verval saam met die manne wat onreg doen nie…”

Rom 7:4 “… Daarom moet ons nou ‘n vrugbare lewe lei in diens van God.”

Liefde,

Anen