Ons kry talle navrae van lede wat meer wil uitvind oor die verskeie sesseringsaksies wat tans op sosiale media bespreek word. Ons het hierdie pogings ondersoek en wil u hiermee ‘n bietjie duidelikheid gee aan die rolspelers betrokke.

Verstaan ook dat sessering, afstigting, of ‘n volkstaatinisiatief buite die Suidlander mandaat val en alhoewel ons enige aksie wat voordeel vir die volk inhou steun, is ons nie amptelik hierby betrokke nie vanweё die mandaatverskil.

Verskeie kundiges is ook van mening dat die kanse skraal is dat die regering so ‘n aksie ooit sukses sal laat bereik. Die waarde daarvan is egter dat daar dan gesȇ kan word dat alle wettige roetes gevolg is.

VVK – Volksraad Verkiesingskommissie

Die VVK het kort na sy stigting in 2011 begin met die lang proses om te onderhandel vir ‘n volkseie gebied. Hulle het reeds samesprekings met die regering gevoer in dié verband en het die saak tot by die VN geneem. Die VVK staan nou op die punt om ‘n nuwe Volksraad te kies en verdere stappe vir onafhanklikheid te begin neem.

VVA – Verenigde Vryheidsalliansie

Die VVA onder leiding van Hein Marx is al vir jare in gesprekvoering met Suidlander bestuur op ‘n vriendskaplike basis. Die VVA ondersoek verskeie gebiede en het ook reeds vȇr gevorder met die sesseringsproses.  Hierdie is ook ‘n waardige inisiatief om te steun.

Die Khoisan sessering

Verskeie kleiner behoudende groepe is betrokke met die Khoisan koning, Cornelius se sesseringsaksie. Vanuit verskeie oorde het ons verneem dat daar wel sekere stappe in die proses van sessering is wat nie deur hierdie aksie korrek gevolg is nie.

Daar is ook ‘n mate van gevaar hierby in dié dat daar gereeld melding gemaak word van ‘n fisiese anneksasie van die gebied in die Kaapprovinsie wat deur hierdie partye geidentifiseer is. So ‘n aksie behoort definitiewe optrede vanaf die regering uit te lok en veral behoudende groeperings wat hierby betrokke is, mag ernstige gevolge dra.

Ander

Daar is ook ander kleiner en jonger sesseringsaksies wat onderneem word en waarvan die geloofwaardigheid in twyfel getrek kan word.

Indien u sou kies om in u persoonlike hoedanigheid by enige van die bogenoemde betrokke te raak, kan u daardie roete volg sonder dat u die Suidlander saak enigsins daarin verteenwoordig. Maak u keuse wys en skakel met verantwoordelikheid met sulke groeperings.