Alhoewel ons dié persoonlike getuienis ‘n geruime tyd gelede geplaas het, is die ondervinding, die belangrike les daaruit, en ‘n herinnering aan die belangrikheid van ‘n voertuig sak vandag nog meer relevant.

“Vrydag middag moes ons die kinders in die koshuis gaan haal sowat 60 km vanaf die huis. Oppad terug het ek besluit om met ‘n ompad by ‘n vriend te stop wat sowat 40 km vanaf die koshuis boer. Dit sou beteken dat ek van sy plaas ‘n grondpaadjie moes neem van omtrent 50 km voor ek weer by beskawing sou uitkom. Ek, my vrou en drie kinders, 5, 8 en 12 is toe na ‘n kort kuiertjie so teen 3-uur die middag daar by hom op die plaas weg huistoe.

Dit het vanaf Donderdag nag heelwat in die omgewing gereën en teen Vrydag was die paaie al deurnat. Die eerste 10 kilometer het ek goed gevorder. Dit het my laat dink dat die res van die 50 km vlot sou verloop. Die tweede 10 km was egter nie so eenvoudig nie. My bakkie het kort-kort van die modderpaadjie af gegly en ek kon telke male net-net beheer behou en teen ‘n kruie-pas verder beweeg.

Vroulief en die kinders het so op 30 km om te gaan met stywe lippe begin ‘pappa-weet-wat-hy-doen’ opmerkings maak en gereeld na my gekyk om my reaksie te toets. Dis die teken dat daar stres in die lug is. In my familie neem ek die besluite as pa en priester, en dit het my net weer laat besef: beplan reg, daar is kosbare lewens wat getrou van my afhanklik is.

Halfpad het die ‘pappa-weet-wat-hy-doen’ begin minder raak, ek is seker dis nie weens twyfel nie, hulle het net meer nodig gehad as dit. Dit is gewoonlik waar ek die stres in ‘n avontuur begin omskep. Skets die ergste en maak dit opwindend. ‘Al slaap ons hier, dan kuier ons heel aand. Vassit is nie so erg nie, daar sal mense wees wat help!’ Net die 5-jarige het dit geglo, maar almal het gedwee saamgestem.

So 20 km om te gaan het dit verwoed begin reën. My bakkie het van die pad af gegly en in ‘n sloot beland. Die boere van die omgewing ken die paaie as dit so reën. Niemand waag dit hier as dit so nat is nie. Plase is groot en lê ‘n goeie 10 km uit mekaar. Ek het sommer dadelik geweet ons is op ons eie.
Dit was koud, nat, die pad so modder-glad dat mens skaars kon loop. Vêr van beskawing. Niemand het ‘n warm ding aan nie, geen stap skoene, en 3 honger kinders.

Ure se stoot, trek, klippe pak, wieg vorentoe, dan agtertoe. Kinders en vrou agterop en hop as ek spin! ‘Vrou kom spin jy dat ek kan stoot!’ Teen donker sit almal nat en vol modder en luister na ‘n swaar reën waarskuwing op die bakkie radio. Niemand sê ‘n woord nie.

Ons was teen Saterdag middag by die huis. Ons kon almal ‘n warm stort geniet, skoon klere aantrek, iets eet, en voor die tv sit en lag oor die laaste 24-uur. Ons kon want daar was nog krag in die land, ‘n huis om na terug te keer, kos in die kaste, geen lewens was bedreig nie. Steeds het ons besef dat dinge binne oomblikke jou kwesbaar en gehawend kan laat.

Ons hele familie het dadelik ‘n altyd-in-die-bakkie-hou lysie begin saamstel. Verbasend hoe selfs die 5-jarige sinvolle bydrae kon maak na daardie ondervinding.

  • Flits
    Kombers
    ‘n Warm ding vir elkeen
    Stewels
    Drinkwater
    Eetgoed (energie stafies, pro-vitas, ens)
    Blikkies kos en droё rantsoene vir ‘n paar dae se etes
    Tou
    Reënjas
    Kouse
    Seil
    Hand katrol (om voertuig uit te strek. Mens kry dit, gaan kyk!)
    Klein gasstofie
    Koffie, suiker, melk mengsel
    Toiletpapier (witgoud!)
    Vuuraanstekers
    Vuurhoutjies
    Motorlaaier vir selfoon
    Band herstel stelletjie
    Tang
    Draad
    Kleefband (Ducktape

 

Gee nog insette!

Hierdie ‘Voertuig Sak’ is nou altyd in die bakkie. Ek sal dalk weer so iets of erger beleef, maar ek sal dit voorbereid beleef. Voorbereiding is ‘n lewenstyl. Leef jou lewe in daardie styl!”