In die vorige twee artikels in die reeks het ons gekyk na fisiese voorbereiding, en daarna na stelseloprigting en die funksionering van ‘n gemeenskap. Vandag wil ons fokus op die belangrikheid van psigiese en geestelike voorbereiding.

Wanneer ‘n konfliksituasie uitbreek skep dit ‘n enorme angspsigose, ‘n tydperk van vrees, verwarring, stres en angs wat mense beetpak en lam lê. Stelsels stort in duie, en daarmee saam TV- en radio uitsendings. Dit laat mense oningelig met slegs stories wat die rondte doen van aanvalle en bloedvergieting. Die onsekerheid wat dit veroorsaak is verterend.

In sulke tye kan mens ‘n duidelike onderskeid waarneem tussen diegene wat onkant betrap is, en die wat hulself hiervoor voorberei het en dit te wagte was. Alhoewel die toestande selfs vir voorbereides angswekkend is, is daar ‘n groot verskil tussen die wat hulself daarvoor ingestel en gereed gemaak het en die res.

In baie gevalle sal mense wat deur sulke omstandighede verras word in so ‘n skoktoestand ingaan dat hulle nie die vermoë sal hê om normaal te funksioneer nie. Sulke mense neem dan irrasionele besluite, oorreageer of verval eenvoudig in ‘n passiwiteit. Dit is uiters belangrik om onsself in te stel op die realiteite van so ‘n tyd. Beplan u optrede en vereenselwig u met prosedures. Ons moet so min as moontlik besluite hoef te neem in so ‘n tyd.

Dieselfde is van toepassing op die geestelike stand van sake. Dit is belangrik om u verhouding met die Skepper te intensifiseer en vas te hou aan die geloof in so ‘n tyd. Deur verskeie profesieë, Bybels en moderne, het ons beloftes van hoop en oorwinning. As gelowiges kan ons weet dat die Vader in beheer bly van alles, selfs al kom dit voor asof alle orde om ons vergaan. Wees bewus van waar ons krag vandaan kom en neem geestelike leiding ter wille van u geliefdes.