Ons moet dikwels ons geloof in die Vader afstof en hersien, want dit moet aanhou groei en my lewe oorheers.

Ons besef dat eintlik, bepaal ons geloof in die Vader, die uitkoms van ons hele lewe, en ons moet die waarheid gedurigdeur vir mekaar herhaal en mekaar bemoedig.

Hoekom vat dit so lank vir ons om die goeie nuus ons eie te maak? Daar is tog genoeg skrif en bewyse. Is dit ‘n set van die vyand?  Ja, gewis! Hy wil ten alle koste verhoed dat ons beskutte en blymoedige mense bly onder druk omstandighede.  Lekker gerieflik vir die vyand as my geloof verswak, want dan verloor ek my geborgenheid in Christus.

Met geloof in ons hart word ons mos soos daardie boom wat by water groei. Al hierdie skrifte oor die wortels van die boom wat sy wortels instoot in die Vader se almagtige krag en wysheid (Divine Power) is ‘n heerlike bybelstudie.  Lees gerus: Ps 1:1-3; Ps 52:10; Matt 12:33; Jer 17:7; Esegiel 47:7-12; Jes 12:2-3; Johannes 4:14; en Jesaja 55:1, ens.

Wat het Jesus self gesê oor hierdie kragbron tot ons beskikking? Johannes 15:5 “Ek is die wingerdstok, julle die lote wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie.” Vers 6 “As iemand nie in My bly nie, word hy weggegooi soos ‘n loot en hy verdroog…” (soos in Esegiël 37)

Dan die vreugdevolle vers 7: “As julle in My bly en My woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry.

Soms hou seëninge in gebed gevra terug, omdat my gesindheid en geloof nie reg is nie. Luister dan na die Vader se liefdevolle uitnodiging in Joh 15:5.

Sien ons droogte om ons? Droë bome wat net geskik is vir vuurmaakhout? Laat ons dan groen bly en ons geur versprei sodat ander ook sterk en kragtig kan word te midde van die stryd.

Hooglied 4:15 “…Daar is ‘n fontein in my tuin, ‘n put met borrelende water, strome van die Lebanon af.” Hooglied 4:16b “…waai deur my tuin, versprei Sy geur

Mag die Vader u seën.

Liefde, Anen