Baie jare gelede, nog in die tyd van die “verskriklike apartheidsregering” is daar projekte geloods waarin bepaal moes word waar Suid Afrika se swakpunte lê.

Die eerste risiko wat geïdentifiseer is vir staatsveiligheid, en hoe Suid Afrika moontlik “aangeval” kan word, was deur ons elektrisiteitsnetwerk te saboteer. In 1994 het die Eskom baas vir Nelson Mandela gevra watse veranderinge hy vir Eskom beplan. Sy antwoord was as volg: “Solank as wat Eskom goedkoop krag lewer, geen veranderinge nie.”

Ons kan baie duidelik sien dat hierdie antwoord nie ‘n realiteit gebly het nie. Op daardie stadium was Eskom ‘n ingenieursfirma met die uitsluitlike doel om ‘n betroubare energievoorsienings instansie te wees wat onafhanklik, sonder enige regerings inmenging, ‘n noodsaaklike stabiliseringsdiens lewer. Die tempo waarteen Eskom slagoffer geval het tot politieke inmenging en finansiële gewin, is so ooglopend, dat mens die vraag kan vra: Kan dit slegs onbevoegdheid wees?

Baie duidelike waarskuwings dat Eskom alternatiewe en addisionele kragopwekkingsvermoë moet aanskaf, is eenvoudig geïgnoreer. Thabo Mbeki het selfs erken dat die regering onder sy termyn ‘n groot fout begaan het deur hierdie duidelike aanbevelings te ignoreer. Vandag sien ons dat talle besluite geneem word wat baie duidelik grootskaalse agteruitgang veroorsaak en steeds word dit nie gestaak nie.

Onwettige kragroof word nie aangespreek nie, en derduisende onwettige konneksies in swart woonbuurte tap ons beperkte kragbron. Hoekom word hierdie probleem nie aangespreek nie?

Swak invordering deur munisipaliteite veroorsaak dat ‘n enorme finansiële las ontstaan. Munisipaliteite skuld miljarde aan agterstallige rekeninge. Soweto alleen is R4 miljard agterstallig en spog met slegs 16% betaalkoers vir hul kragverbruik. Hierdie probleem word nie aangespreek nie.

Eskom Direkteure word steeds geweldige groot salarisse betaal, terwyl die een na die ander bewys om totaal onbevoeg te wees. In 2013/14 boekjaar het die drie top Direkteure sowat R24,4 miljoen verdien terwyl al die Uitvoerende Bestuurslede gemiddeld meer as R4 miljoen elk verdien het.

Intussen sien ons geen optrede teen stakings wat aanbouing vir nuwe kragstasies belemmer nie.  Daar word so min teen sulke stakings opgetree dat mens wonder of die uitkoms daarvan nie intensioneel is nie. Vakbonde word toegelaat om enorme boikot-aksies teen Eskom te dryf. Net gister het Cosatu aangekondig dat hulle ‘n groot protesaksie gaan loods teen die aansoek wat Eskom ingedien het vir ‘n addisionele elektrisiteitsprys verhoging. Aan die een kant word hierdie unies toegelaat om die ekonomie te boikot en salarisverhogings vêr bo die verbruikersprys indeks te eis, maar aan die ander kant word verhogings in die produk verkoopprys geboikot. Die blote feit dat hierdie optrede nie baie streng aangespreek word nie, dui daarop dat sekere besluitnemers die gevolg daarvan goedkeur.

Huidiglik word daar ook steenkool aangekoop by sekere verskaffers onder sinistêre omstandighede. Waar steenkool by sekere verskaffers vir R170 per ton aangekoop kan word, verkies Eskom nou om hul aankope by sekere swart bemagtigings verskaffers aan te koop teen ongeveer R460 per ton. Daar word bereken dat hierdie verdagte aankope ‘n verhoging van primêre energiekoste vanaf R19 miljard na R70 miljard teweeg gebring het. Eskom koop ook enorme hoeveelhede diesel aan om op ‘n koste van ongeveer 19 keer die van steenkool aanlegte krag te lewer vanuit diesel terbunes. Hierdie peperduur metode van kragopwekking is totaal onvolhoubaar, maar dit raak erger. Aankope van diesel geskied nie soos dit moet, by groothandel verskaffers nie, maar word by individue aangekoop. ‘n Voorbeeld hiervan is die aankope van ongeveer R200 miljoen se diesel wat by Dr. Maxine, ‘n tandarts en by ‘n Monica Nkosi, ‘n skoonheidsterapeut aangekoop word. Hoekom gebeur hierdie aankope nie by groot brandstof produsente soos Petro SA nie?

Verder is een van Eskom se grootste probleme die swak onderhoud wat oor die laaste twee dekades gedoen is. ‘n Kritiese bestandeel vir hierdie onderhoudswerk is die kundigheid wat daarvoor aangewend word. Ongeveer 2 400 sleutelpersoneel word nou uitgefaseer deur Eskom omdat hulle wit is. Meer as helfte van die blankes moet gaan. Alhoewel die rede hiervoor is dat Eskom die land se rasse demografie in sy werkmag wil verteenwoordig, word hierdie besluit geneem in duidelike teenstelling met die nasionale behoefte om stabiliteit te behou.

Die vraag hier is weereens: Is stabiliteit regtig die prioriteit?…  of nog erger, is anargie die doelwit?

Groete

Bestuur