Die aanklagte teen Gustav, sy bestuur en sy leiers, is fel en onophoudelik. Sien dit van ‘n ander kant. Waar u as lid in die veld grotendeels onbekend is met u leierskap se geestelike siening, wêreldbeskouing, morele standaarde en opregtheid, is dit van my kant gesien ‘n ander prentjie.

Hierdie is ‘n eerlike en opregte ondervinding van die saak. Anders as u, is ek daagliks blootgestel aan hierdie mense, hulle karakter, hulle toegewydheid en opregtheid. Ek beleef dit eerstehands. Hierdie is ‘n kort getuienis van wat ek beleef, as dit vir u ter waarde is, goed, as nie, dan het ek my eerlike probeer.

My ondervinding van ons leierskap staan in felle kontras met die blatante leuens wat ek mense in detail sien skryf. Mense wat snaaks genoeg, ure tyd maak om hierdie skrywes te produseer. Dan vra ek myself: Hoe kan iemand so graag, soveel tyd en moeite, soveel wil insit om iemand te diskrediteer, iemand wat ek eerstehands leer ken het as manne en vroue van integriteit.

Gustav het daagliks ongeveer vier ure vergadering met bestuur. Dit is my persoonlike ondervinding dat die meerderheid van hierdie tyd geestelik van aard is. Vrae en stellings waaraan ek gewoond geraak het in hierdie besprekings sluit die volgende in:

Is ons in die Vader se wil?

Wat sal Hom behaag?

Hoe moet ons hierdie saak hanteer tot voordeel van die volksaak?

Wat is Sy wil in hoe ons dit hanteer?

Wat is die regte ding volgens die Bybel in hierdie geval?

Is dit opreg as ons dit so doen teenoor die volk?

Daar is geen manier in my ondervinding, in al nege jaar se ondervinding, dat ‘n greintjie se twyfel bestaan oor die opregtheid van senior leierskap in hierdie organisasie nie. Ek ken ‘n span mense met foute, nukke, hul eie oortuigings – geestelik en wêrelds, ‘n verskeidenheid mense met ‘n verskeidenheid wêreldbeskouinge soos wat ons boere gemeenskap maar is. Maar, dat hulle opreg is, baie lief vir ons Skepper is en tyd, moeite en toewyding aan hierdie saak skenk, is daar by my geen twyfel nie.

Gaan lees gerus die volgende gedeelte en maak dit eie aan u volgende optrede, en die een daarna. Spreuke 10:31,32: “Die mond van die regverdige laat wysheid uitspruit, maar die valse tong word uitgeroei. Die lippe van die regverdige weet wat welgevallig is, maar die mond van die goddelose is pure valsheid.