Onthou u die gediggie uit die kleutertyd?

’n Padda op ‘n buiteplaas het hom eendag opgeblaas.

Hy sê hy kan wat dit ook kos so groot wees soos die grootste os…!

Natuurlik was dit valse trots, want al sy geblaas het hom laat oopbars.

Ons is nie beter, slimmer, groter, mooier of wat ookal as ander mense nie.  Rykdom, slimheid, skoonheid – enigiets wat tot selfverheffing kan lei, is ‘n oop deur vir die vyand. Spreuke 13:10: “Selfverheffing lei altyd tot twis; dié wat goeie raad aanneem, het wysheid.” Spreuke 16:18: “Op hoogmoed volg ondergang, op selfverheffing volg die val.” In Obadja 1:2-3 sê die Here vir Edom: “… jy sal glad nie meer gereken word nie. Jy is deur jou vermetelheid mislei…” Die Amplified Bybel sê: “The pride of your heart has deceived you…

In dié gelykenis wat Jesus vertel het in Lukas 18:9-14 het die Farisieër God gedank dat hy nie soos ander mense is nie. Dan noem hy hulle nogal op: Diewe, bedrieërs, egbrekers en ook soos hierdie tollenaar. Die tollenaar het opreg nederig gebid: “O God, wees my, sondaar, genadig.” Jesus het gesê: “Elkeen wat hoogmoedig is, sal verneder word…” (Lukas 18:14b) Wat straal die Farisieër uit? “Jy is gebrekkig, onvolkome, ens.  – doodgewoon nie goed genoeg nie.”

Trots spog met die self wat eintlik sê: “Ek is beter as jy!” Nederigheid laat die Koning van die heelal op ‘n donkie ry en aan ‘n kruis hang. Fil 2:5,7 en 8 “Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar in Christus Jesus was…” (vers 7 en 8) “Maar Hy het homself verneder deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word… Hy was gehoorsaam tot in die dood ja, die dood aan die kruis.

Trots of eersug is die drang na selfverheffing of selfverheerliking. Die sonde vind mos sy pad terug na Satan (Jes 14:13-14) In vers 14 sê Satan trots: “Ek klim op tot bokant die wolke, ek word soos die Allerhoogste self.” Toe Satan hom teen die Vader verhef het, het hy ‘n hele aantal engele met hom saamgeneem. Hierdie drang na selfverheffing en selfverheerliking was die oorsprong van sonde.

By ons mag geen trots sy kop uitsteek nie. Hoekom nie? Want trots en eersug kan nie diepe eerbied en dankbaarheid aan God betuig nie. Die eie-ek is altyd in die pad en begeer alles vir homself, terwyl eerbied alles vir die Vader en ander wil gee.

Liefdegroete

Anen