yes lordOns lewe in ‘n tyd waarin daar so baie onvergenoegdheid is . Die ontevredenheid a.g.v bekommernis, woede, ens. borrel orals uit – om die braaivleisvuur, by die teedrinkery, in die loopgange…

Ons almal kyk nuus en lees daagliks die koerant. Ons is mos nie volstruise nie. Verseker is almal geskok, kwaad en vol vrese en bekommernisse. Die nuus wêreldwyd dui op die laaste tye, kyk na Matt 24 veral vers 7.

By Jeremia 49 het die Amplified Bybel ‘n aantekening van profesieё wat al in vervulling gekom het “One can only stand in awe and reverent amazement at the precision with which the prophesies of the Word of God are being carried out in the present day and age. How except by divine inspiration could the prophesies been foretold…” Dan noem hulle die profesieё wat reeds waar gekom het tot op die letter.

Wat ons in werlikheid in hierdie tye beleef, is ‘n konfrontasie tussen twee koninkryk, die koninkryk van die Lig en die koninkryk van die duisternis. Waar ons in louheid en vrees verkeer, floreer die duisternis. Dis duidelik om te sien wie veg aan watter kant, maar die groot gevaar lê in die besluitloosheid van louheid en negatiwiteit.

Hierdie onvergenoegde gees kritiseer maklik ander, en herkou dit gedurig soos ‘n skaap. Alles wat uitgespreek word kan niks aan enige situasie verander nie! In teendeel, dit vergroot net ons hopelose gevoel van pessimisme. Dit veroorsaak dat ons uitsigloos en radeloos voel. En dis aansteeklik.

Aikôna, dis nie wat die Vader van ons wil hê nie – wat ookal om ons gebeur, skrikwekkend soms self lagwekkend, mag ons nooit uit die oog laat verloor hoe groot die wonder van die Vader se goedheid en betrokkenheid is nie.

Midde in Dawid se moeilike tyd hou hy sy getrouheid, Ps 34:2,3 “Ek sal die Here altyd weer prys en Sy lof sal altyd op my lippe wees. Ek sal die roem van die Here sing; die wat swaar kry sal dit hoor en daaroor bly wees.”

Spreek geloof en gryp die Vader se beloftes vas! So versterk ons onsself en ander mense.

Markus 4:35 tot 41 – ‘n Woeste storm het losgebars en die golwe het die skuit begin vul met water. Jesus het rustig gelê en slaap toe hulle hom beangs roep. Nadat Hy die wind bestraf het, kom daar ‘n groot stilte, en wat sê Jesus? “Siestog, het julle geskrik?” Nee, Hy sê: “Waarom is julle bang? Het julle dan nie geloof nie?”

Wat is ons reaksie in ‘n storm? Storms is deesdae duidelik om ons en in die geesdimensie sigbaar. Wanneer gaan ons begin om ons vaste geloof te bewys deur woorde en dade?

Nee, ons het nog dubbele standaarde. Een praatjie vir die goeie tye en heeltemal ‘n ander vals deuntjie in die storm. PD le Roux skryf: “Woorde is altyd gees en wanneer iemand spreek, sit hy sy gees oor in klank, gevolglik kom jy met sy gees in aanraking deur sy woorde, en kan jy dus gou vasstel wat sy geestelike stand is uit die taal wat hy praat

Spreuke 10:11 “Die woorde van die regverdige bring lewe en geluk.”

Spreuke 10:20 “Die woorde van die regverdige is die fynste silwer werd.”

Matt 12:36,37: “Dit sê ek vir julle; van elke ligsinnige woord wat die mense sê, sal hulle rekenskap moet gee op die oordeelsdag. Op grond van jou eie woorde sal jy vrygespreek of veroordeel word.”

Die Vader het vir ons taal en woorde gegee en Hy vewag dat ons dit tot Sy eer, verantwoordelik sal gebruik. Hy waarsku in talle skrifte dat ons nie onverskillige woorde moet rondslinger nie.

Ps 141:3 : “Sit ‘n wag voor my mond Here, hou tog wag oor wat ek sê.”

Liefde, Anen