Mediese Voorbereiding

Die aanwending van persoonlike voorbereiding vir u eie behoeftes is ‘n uiters belangrike konsep om te verstaan in die mediese veld.

Die Suidlander mediese departement is tans besig met opleidingsmodules wat hierdie konsep deeglik aan die publiek sal verduidelik. Die beginsel is eenvoudig, die mediese departement sal in veilige areas veldhospitale oprig, maar op ‘n unieke manier.

Hierdie hospitale word ingerig met die basiese fasiliteite soos beddens, lopende water, higiëniese omstandighede, en personeel.

Die mediese departement werf mediese personeel, verskaf opleiding en deel hierdie individue toe aan veldhospitale, klinieke, bestaande hospitaalfasiliteite, ens.

Die hospitale word egter nie voorsien van medikasie en toerusting om mense mee te behandel nie. Hier geld dieselfde konsep. Elke lid moet sy eie mediese middele nou reeds aanskaf. ‘n Lid sal dus met wat hy het by so ‘n mediese sentrum behandel kan word.

Na behandeling kan hy weer terugkeer na sy woonplek met dit wat in sy mediese voorbereiding oor is. Indien vlugtelinge byvoorbeeld met wonde by so ‘n sentrum opdaag sonder enige medikasie, sal net die absolute basiese behandeling aan hom gebied kan word.

Weereens kan die persone wat ag geslaan het op voorbereiding, nie benadeel word deur die wat nie daaraan aandag geskenk het nie. Veral op die mediese terrein is dit dus uiters belangrik dat elke familie sy mediese voorbereiding deeglik doen. Skenk aandag aan u mediese voorbereiding, dit is al wat u in die toekoms tot u beskikking gaan hê.