2 Kor 12:9-10 “En Hy het vir my gesê: My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring. Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon. Daarom het ek behae in swakhede, in mishandelinge, in node, in vervolginge, in benoudhede, om Christus wil. Want as ek swak is, dan is ek sterk.

Die ‘swakheid’ wat in bogenoemde vers bespeek word, beteken basies om in totale afhanklikheid van die Vader se Wil te leef. Dis ‘n leefwyse van om die eie-ek, eie-wil, liefde vir wȇreldse goed opsy te skuif en in totale gehoorsaamheid en liefde die Vader te wil te doen.

Ons leef in ‘n wȇreld waar die term “swak” as baie negatief en afbrekend beskou word – staan op, baklei vir wat JY wil hȇ, haal mede broers en susters in die proses uit om JOU doelwitte te bereik (maar is dit die Vader se wil of joune waarvoor jy so sterk staan?)

Ons is nie op aarde geplaas sodat die Vader vir ons moet werk nie … nee, ons moet hier en nou vir Sy koninkryk in gehoorsaamheid diens doen. Hoeveel werk ons daagliks vir Sy koninkryk, of hoeveel energie gaan daarin om ons eie koninkrykie te onderhou? Net een het ewigheidswaarde, en jou persoonlike sukses mag dalk opeindig om teen jou te tel.