Ons laaste Wildtuin besoek was vir ons ‘n hartseer storie. Ek het baie geheime trane agter my sonbril laat opdam. Trane vir ‘n olifantkalfie wat teen sy ma moet moet leun om staande te bly. ‘n Groot olifantbul wat staan en stof opskop om met ’n droë worteltjie te voorskyn te kom. ‘n Trop bobbejane wat alle tekens van lewenslus verloor het, wat rondsit en lê. Hul gesigte uitdrukkingloos, moedeloos en uitsigloos. Van die seekoeie wil ek nie praat nie. Nee! My nerf is te dun vir sulke lyding.

Maar, dankie Here vir die mildelike reën wat nou in die omgewing geval het. U alleen kan vir mens en dier uitkoms gee. Die Vader kan ook geestelike reën oor ons laat afkom – Hos. 14:5-7.

Die Vader het vir Esegiël die grootste denkbare droogte gewys. Die mag van die Here het van hom besit geneem en hom in ‘n laagte neergesit. Die laagte was vol droë bene – Esegiel 37:1-14.

Die Vader vra toe vir Esegiël: “Mens, kan daar in hierdie bene weer lewe kom?” (Esegiel 37:3) Ek sou gesê het: “Nee gits, die goed is te deurmekaar!” Duidelik sou ek dan Sy krag aan menslike standaarde gemeet het.

Esegiël het geantwoord: “Nee, dit weet net U, Here my God.” En ja! Hy weet alles en Hy wil ons genees. Kyk net wat antwoord die Vader: “Tree op as profeet vir hierdie bene en sê vir hulle: Hoor die woord van die Here, droë bene! So sê die Here my God vir hierdie bene: Ek gaan gees in julle laat kom sodat julle kan lewe. Ek sal vir julle senings en vleis aansit en julle oortrek met vel en dan sal ek gees in julle gee sodat julle kan lewe. Dan sal julle besef dat Ek die Here is.” (Esegiël 37:4-6)

Hierdie droë bene is nie ’n vorige slagveld nie, dit is die droë bene van Israel se geestelike verval (Esegiël 11:17-20.) Die Vader belowe hier ‘n nuwe gees en ‘n nuwe hart – Esegiël 11:19

Net die Vader met Sy soewereine krag kan ons weer vul met Sy Gees. Esegiël 11:21 – Die wat die walglike, afskuwelike dinge bly doen se dade sal op hulle eie kop afkom.

Wat doen Esegiël? Hy spreek lewe. “Hoor die woord van die Here… sodat julle kan lewe.” – Esegiël 37:10. Hy tree in gehoorsaamheid op as profeet.

Van ons vra die Vader dat ons selfondersoek sal doen en begin lewe. Dan sal ons deur ons lewenswyse, ons gesindheid en ons woorde begin lewe spreek.

Liefde, Anen