Matt 25:14-30 – Met die gelykenis van die muntstukke het Jesus ons geleer dat ons almal talente ontvang het, en daarmee moes woeker. Die eienaar van die slawe het teruggekom van sy reis af en dadelik rekenskap van sy slawe gevra.

Een vir een het die slawe kom teruggee wat hulle ontvang het, en ook die wins wat hulle gemaak het. Elkeen is beloon met die woorde “… Mooi so! Jy is ‘n goeie en getroue slaaf. Oor min was jy getrou, oor baie sal ek jou aanstel. Kom in en deel in my vreugde.

Die derde een wat net een muntstuk ontvang het, het gesê (vers 25) “Omdat ek bang was, het ek u muntstuk in die grond gaan begrawe. Hier het u u geld terug.

Die eienaar draai nie doekies om nie. “Jy is ‘n slegte en lui slaaf!” Hy beveel dat sy een muntstuk aan die een met die tien muntstukke oorhandig moet word.

Vers 29: “Aan elkeen wat het, sal meer gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar van hom wat nie het sal ook die bietjie wat hy het, weggevat word!

Wie wil nou nutteloos, in die finale oordeel, met leë hande voor Hom staan? Hy het Sy lewe gegee om ons te red van daardie diepste duisternis daarbuite! (vers 30)

Die Disciples Study Bible sê: “Final judgment will be based on what actual deeds reveal about the true inner spiritual state of persons. Hypocrisy cannot survive the judgment.

Jesaja 60:6 praat van die rykdom van die Dooie See. Tot diep in die twintigste eeu het mense wat Bybelstudente was nie verstaan wat hierdie vers beteken het nie, want die Dooie See was vereenselwig met dood en verlatenheid. Watse rykdom kan daar tog skuil? Volgens aantekeninge in die Amplified Bybel het wetenskaplikes nou ontdek dat die water chemikalië bevat, vier keer die rykdom van die VSA. Die Vader self het Jesaja gelei om die vers te skryf.

Die Vader het ons nie geskape om soos die Dooie See onbruikbaar daar te lê nie. Elkeen is met besondere talente geskape en ons gawes sal begin vloei as ons dit soek en die Vader daarmee begin vereer.

Alles tot eer en verheerliking aan ons Vader wat hemel en aarde met die fyn detail en beplanning geskape het.

2 Tim 2:21: “As iemand hom van die kwaad gereinig het, sal hy ‘n voorwerp vir besondere gebruik wees. Dan sal hy vir die eienaar afgesonder en bruikbaar wees, voorberei vir enige goeie diens.

Groete

Anen