Op voetsoolvlak sien ons gereeld hoe misdade tot tragiese gevolge lei ongeag ‘n sterk regsbank en redelike polisiemag in Suid Afrika. Wanneer prokureurs om die tafel sit, behou die afdwingbaarheid van gereg ‘n groot mate van invloed wanneer besluite geneem word. Wanneer kriminele egter in die uitvoering van wandade  aan reg of verkeerd dink, het dit min effek.

Dieselfde parallel kan getrek word in die komende klimaat van anargie wat vir Suid Afrika voorlê. Op hierdie stadium is die regsbank redelik effektief met die vervolging van hooggeplaaste politieke figure of instansies. Ons sien hoe die regsbank nou weer effektief ingespan word teen Black First Land First se intimidasie en dreigemente teenoor joernaliste. Op amptelike vlak is daar nog ‘n mate van afdwingbaarheid van die reg oor hierdie instansies weens hul openbare en amptelike bestaan.

Wanneer rewolusionêres egter op grondvlak begin mobiliseer, is daar min kans om gereg deur middel van die regsbank af te dwing. Hierdie ontkenning van die reg en onvermoë om gereg af te dwing raak duidelik sigbaar by gewelddadige protes.

Om een of ander rede verwar die liberale samelewing hierdie twee aspekte met mekaar. Die media, politieke ontleders, ekonome, en opinievormers het klaarblyklik totaal tred verloor met wat op die grond aangaan. Daar word desperaat vasgeklou aan ons regsbank met ‘n valse vertroue dat dit die toenemende rewolusionêre toestand onder die arm massas sal kan beheer met ‘n regterlike vingerwysing.

Ekonomiese toestande, politieke onstabiliteit, sosiale haglike toestande, ens. is besig om meer en meer motief vir grootskaalse gewelddadige opstand by te voeg. Verdiepte rassespanning en konstante blanke beskuldigings soos wit monopolie kapitaal en die steel van grond sal hierdie gewelddadige optrede vinnig tussen rasselyne verdeel en swart op wit konflik veroorsaak.

‘n Totaal onverantwoordelike vertroue op die vermoë van die regsbank om sulke grondvlak destabilisasie te beheer, is kortsigtig en grens aan growwe nalatigheid. Moenie u vertroue verder plaas in die afdwingbaarheid van gereg terwyl die vermoë om dit af te dwing of die wil om dit te gehoorsaam, nie eens bestaan nie.