Ons het almal ons voorbereiding oor die jare opgebou. Sommige beter as ander. Sommige van ons het kosvoorrade al menigte male vervang.  Sekere mense het net die basiese terwyl ander vir jare met die duurste kan oorleef. Selfs vir hulle is sekere artikels net te duur.

In hierdie skrywe wil ons praat oor die aanskaffing van sekere artikels wat uiters noodsaaklik in oorlewingsomstandighede kan wees, maar wat onnodig is om te veel van te hê.

In sulke gevalle is dit raadsaam vir groepe om saam sekere artikels aan te skaf. Reël vergaderings in u area en bespreek die volgende punte:

  1. Watter artikels om as ‘n groep aan te koop.
  2. Hoe die fondse vanaf individue ontvang en bestuur word.
  3. Die eiendomsreg wat die groep dan op die artikels het, m.a.w sou individue die groep verlaat of addisionele lede bykom, hoe dit die besitreg en toekomstige gebruik daarvan raak.
  4. Wie is die verantwoordelike persone om in die toekoms die toerusting te vervoer, onderhou, bewaar en aan te wend.
  5. Wie gaan in die toekoms almal voordeel trek uit hierdie artikels.

Dit is belangrik om al hierdie punte te dokumenteer en deeglike notules van vergaderings en besluite te hou.

Hou ook in gedagte dat die verantwoordelike persone wat die artikels vervoer, die hele groep tot nadeel sal wees indien hy/sy by onttrekking nie uit ‘n stad of dorpsgebied kan kom nie. Die groep kan dus ook bespreek watter moontlikhede daar is om sulke groepseiendom voortydig na veilige plekke te skuif.

Neem spesiale sorg in u dokumentasieproses. Ons het by Hoofkantoor al slegte ondervinding opgedoen met mense wat later bydraes terug eis en skenkings wil terug hê.

Ons bespreek môre ‘n paar noodsaaklike items wat gesamentlik aangekoop kan word.