Brandhout kan in die toekoms ‘n skaarste raak wanneer honderde duisende mense daagliks kos met vure moet gaarmaak, veral in ‘n omgewing wat nie boomryk is nie. In die Boereoorlog moes treinvragte brandhout van Zimbabwe ingevoer word net om konsentrasiekampe se potte aan die kook te hou (die bietjie kos wat hulle gehad het.)

Eerstens sal dit wys wees om reëlings te tref vir gesamentlike kookfasiliteite. Mens kry deesdae oulike ontwerpe van stowe wat met dun houtjies, selfs stokke, aan die brand gehou word en wat baie ekonomies op brandhout is.

Bespreek in u groep hoe tien of vyftien families saam ‘n stoof kan aankoop of laat bou sodat gesamentlike kos daarop gekook kan word. Dit hoef nie kompleks te wees nie, elke familie kan steeds bykosse volgens hulle eie voorbereiding gaarmaak, maar veral stapelvoedsels kan gesamentlik aangekoop en gaargemaak word vir die groep.

‘n Voorbeeld hiervan is om ‘n groot pot pap op te sit vir almal om te deel, maar dat elke familie dan sy eie bykos voorberei. Die een ‘n blikke Bullybeef, die ander dalk ‘n bruinsous vir sy eie mense.

Oorweeg ook om gesamentlik groot potte aan te skaf. Dit is baie meer ekonomies om in een groot pot vir ‘n groep mense ‘n ‘stew’ te maak, as omstandighede dalk vleis van soorte oplewer.

Sonder koelgeriewe sal ‘n enkel familie moeilik iets soos ‘n skaapkarkas oor tyd kan benut.  Gesamentlik maak dit egter sin. Om ‘n skaapkarkas dan tussen vyftien families te verdeel, en elkeen op 15 maniere dit te moet gaarmaak, is oneffektief.

Oorweeg ook om ander toerusting soos ‘n kettingsaag aan te skaf waarmee groot hompe hout in brandhout verwerk kan word. So ‘n item is duur en kan ‘n voordeel inhou vir die hele groep. Dit is dus die tipe item wat nie deur individue aangeskaf behoort te word nie.

Brei hierdie gesamentlike kosvoorbereiding fasiliteite en toerusting uit en put die maksimum voordeel uit ‘n gesamentlike veldkombuis. Dit hoef nie individuele kosvoorbereiding van individue/families te beïnvloed nie, aangesien elkeen sy eie smaak en koste in voorbereiding inbou.