U sal agterkom dat waarskuwings wat vanaf Suidlander noodwaarskuwingstelsel af kom, op ‘n baie kalm en gematigde manier aangebied word. Daar is ‘n rede hiervoor.

Die Suidlanders het ‘n enorme ondersteuningsbasis wat informasie vir ons deurgee rakende toestande wat ‘n bedreiging vir stabiliteit inhou. Verder meer het ons ‘n groot paneel van kundiges wat op elke vlak relevant tot stabiliteit vir ons kundigheid verskaf en help ontledings en projeksies formuleer.

In kontras met ons gevestigde verwerkingsvermoë, is daar talle klein splintergroepe wat telkemale wolf-wolf skree en mense paniekerig maak om in gereedheid te kom of in baie gevalle, met ‘n onttrekking te begin. Sonder om onnodig krities of afbrekend teenoor regse organisasies te staan, is dit steeds ‘n feit dat daar geen behoudende organisasie in Suid Afrika is waarvan eers die leier voltyds sy leiersposisie beklee nie.

Vergelyk dit met die Suidlander Noodplan wat ‘n groot bestuursgroep het wat voltyds in diens van die Suidlander Noodplan is en daarby honderde mense wat deeltyds lang ure vir hierdie noodplan opoffer. Ons vermoë om situasies te ontleed en ons mense daarvolgens ingelig te hou, is onvergelykbaar met ander sogenaamde volksgerigte organisasies.

Ongelukkig kies sekere mense steeds om hulself aan die genade van ‘n splintergroep te plaas wat as ‘n stokperdjie bedryf word. Ons het dit duidelik gesien met die panieksaaiery wat onlangs plaasgevind het rondom die Khoisan sesseringsaksie. Verskeie groepe het met ‘n onttrekking begin tydens die afloop van daardie aksie. Nou is hulle stil.

Een ding kan u verseker weet, die dag as die Suidlanders waarsku en u in gereedheid bring, kan u luister.