Psalm 37:1-11 “Wees nie toornig op die kwaaddoeners nie, beny hulle nie wat onreg doen nie; want soos gras sal hulle gou verwelk, en soos groen grasspruitjies sal hulle verdroog. Vertrou op die HERE, en doen wat goed is; bewoon die aarde en beoefen getrouheid, en verlustig jou in die HERE; dan sal Hy jou gee die begeertes van jou hart. Laat jou weg aan die HERE oor en vertrou op Hom, en Hý sal dit uitvoer; Swyg voor die HERE en verwag Hom; wees nie toornig op hom wat voorspoedig in sy weg is nie, op die man wat listige planne uitvoer nie. Want die kwaaddoeners sal uitgeroei word; maar die wat die HERE verwag, hulle sal die aarde besit. En nog ’n klein rukkie en die goddelose sal daar nie wees nie; ja, jy sal ag gee op sy plek, maar hy sal daar nie wees nie. Die ootmoediges daarenteen sal die aarde besit en hulle verlustig oor groot vrede.”

Leef ons nie in ‘n tyd van frustrasie, onreg en hartseer nie? Om ons lyk dit of dié wat nie opreg na die Vader se wil streef nie, net sukses op sukses het. Hulle bly in beheer, lyk voorspoedig, terwyl ons in opregtheid sit en lyk of ons konstant net aan die kortste end trek.

Die Vader het geweet dat dit so sal wees in hierdie laaste tye. Dis die laaste oefenlopie voor ons Sy glorie sien skyn omdat ons in die plek is waar Hy volgens Sy wil wil hê ons moet wees. Die versie hierbo is ter bemoediging dat ons ons fokus behou.

Wanneer ons van die Gees Sy wil afgebid het, Sy Geesleiding ontvang het van die posisie wat ons moet inneem vir die laaste finale dae, is dit asof die aanslae drasties begin toeneem. Alles peper ons van die kant af, Satan hoop dat daar genoeg seerkry, irritasie, bekommernisse, aanslae sal wees dat ons die gesig sal draai, weg van die wenpaal daarvoor.

Hierdie verse bemoedig ons om aan te hou fokus en, ten spyte van alles om ons, onsself in te rig en in posisie te kom. Met geloof en volharding is dit ons plig en tot ons eie voordeel om voort te beur. Een van die dae gaan alle hel losbreek op hierdie aarde, die Vader gaan die lyne bymekaar bring met ‘n handjie vol opregtes wat Hy een-een gekies het om in posisie te kom. Elkeen met ons eie beperkte vermoë en in nederigheid, werkstukke in Sy hand.

Moenie opgee nie. Die dag waarin Sy sukses en glorie vir ons sigbaar raak, is naby. Ons weet dat Hy vir ons planne van voorspoed het, ons weet dat die vyand uitgewis sal word, en soos Siener gesê het, vir dié wat weet, sal dit nie so erg wees nie.