Ons mense is oor die algemeen goed voorberei vir ‘n vlugteling- of ontruimingssituasie. Hierdie is ‘n onderwerp wat nog min bespreek is, maar vandag wil ons na huisvoorbereiding kyk. Lank voor ons ons in die “vulkaniese uitbarsting,” soos Johanna Brandt dit beskryf bevind, of die “donker tyd” waarvan oom Nicolaas gepraat het, kan ons reeds tekens van ’n komende duisternis beleef.

Hoe rig u u woning in wanneer dinge begin in duie stort en u nie u woonplek verlaat nie? Dit klink dalk kontrasterend met die konsep van ontruiming, maar daar is steeds omstandighede en toestande waarin u vir ‘n tyd moontlik steeds in u huis kan bly.

Dit is kardinaal om hierdie konsep in die regte konteks te verstaan. Hier word op geen wyse aanbeveel of voorgestel dat u langer as nodig in u huis bly nie. Hoe vinniger mense reageer, hoe kleiner die kanse om vasgekeer te word in ‘n gevaarlike gebied.

Omstandighede waarna ons verwys, is waar sekere infrastruktuur ineenstort sonder dat ’n bedreiging voorkom, of indien u in ‘n area woon wat eerder ‘n ontvangsgebied as ’n ontruimingsgebied is. Baie plattelandse gebiede sal langer veilig bly, of is reeds in veilige gebiede geleë. In sulke omstandighede kan daar op huisvoorbereiding gefokus word. Dit vervang ook geensins die mobiele vermoë wat u moet inbou in u noodplan om u voorbereiding te skuif nie.

Die eerste en belangrikste punt om na te kyk, is water. ‘n Beginsel wat hier geld, is dat mens nie genoeg water kan opgaar vir sulke toestande nie. Hand aan hand hiermee gaan sanitasie. Water is ook nodig vir wasdoeleindes en higiëne, en kan vinnig ’n groot las raak en u gesondheid bedreig. Huise met ’n swembad hou hier groot voordeel in.

Onthou dat water nie vir ‘n onbeperkte tyd gestoor kan word nie, maar die watersuiweringsdruppels wat by HK beskikbaar is, is uiters ekonomies en doeltreffend. Toetse toon dat water wat in houers gestoor word, langer as 5 jaar vars bly na behandeling met hierdie druppels.

Onthou dat spoeltoilette nie noodwendig reg sal werk indien die krag sou afgaan nie. Alhoewel riool met gravitasie afgevoer word, is dit net tot op ’n sekere punt vanwaar elektrisiteitaangedrewe pompe dit vêrder voer. Rou rioolstorting kom dan gewoonlik voor by hierdie laagliggende plekke wat ook gesondheidsrisiko’s inhou.

Indien die rioolstelsel in u area wel funksioneer, moet u ook in gedagte hou dat genoeg water gebruik moet word om ‘n spoeltoilet mee te spoel. Met te min water sal gravitasieafvoer nie reg funksioneer nie. Wanneer die rioolstelsel onklaar raak, sal u vroegtydig ’n putstelsel moet maak of  ’n chemiese toiletselsel moet gebruik.

Ons sien dat Eskom suksesvol in die Hooggeregshof toestemming gekry het om elektrisiteitsvoorsiening by 8 munisipaliteite af te sny. Hierdie munisipaliteite is Thembelihle in die Noordkaap, Moqhaka, Mailonyana, Nkentoana, Mantsopa, Tokologo, Nala en Dihlabeng, almal in die Vrystaat. Beplanning tot dusvêr is dat die elektrisiteitvoorsiening teen Maandag afgesny sal word.

Hierdie spreek van ‘n goeie voorbeeld om u huis vir so ‘n toestand gereed te kry.

Volgende moet ons onthou dat daar met ‘n langdurige kragonderbreking spesifieke uitdagings met varsprodukte en vleis sal wees. Baie mense sal dalk nie die inhoud van ‘n vrieskas elders kan neem nie. In sulke gevalle is dit beter om vleis gaar te maak, aangesien dit dan langer sal hou, veral in koel weersomstandighede. Onthou ook dat veral vleis, goed gaargemaak moet word in omstandighede waar higiëne nie op standaard is nie en waar imuunstelsels verswak weens byvoorbeeld onder- of ongeballanseerde voeding.

Kosvoorbereiding sonder krag sal moeilik plaasvind as u nie genoegsame alternatiewe energie aanskaf nie. Gasstoof of tweeplaat stoof met genoeg gas bied ‘n bekostigbare oplossing. Kom ook in die gewoonte om ‘n voorraad hout op te bou sodat daar buite gaargemaak kan word.

Sonder krag gaan laaibare elektroniese toerusting soos selfone, skootrekenaars, ens. nie gelaai kan word nie. ‘n Klein sonkragstelseltjie kan hiervoor aangeskaf word.

Beligting in die huis wanneer die krag afgaan, is ook nuttig. Hou dit in gedagte, nie net vir u persoonlike gerief nie, maar ook vir sekuriteit. Dit is alombekend dat misdaad toeneem in areas waar kragonderbrekings voorkom.

Alhoewel watervoorsiening en sanitasie beide belangrike dienste is waarvoor voorsiening gemaak moet word, moet ons onthou dat staking van kragvoorsiening ook sal lei tot water en sanitasie probleme.

Brandstofvoorraad moet opgegaar word omdat brandstofpompe nie kan werk sonder krag nie. Min brandstofstasies het kragopwekkers om hiervoor in te staan. Selfs al sou dit beskikbaar wees, kan talle ander dienste soos aflewering van brandstof, verwerkte voedselprodukte, medikasie, ens. erg belemmer word wanneer ‘n grootskaalse kragonderbreking voorkom.

Hou ook in gedagte dat baie selfoontorings ‘n kort tyd na ‘n langdurige kragonderbreking sal staak. Ander gevolge van kragonderbrekings is verswakte polisiëring, toename in gewelddadige protes, verkeersknope weens verkeersligte wat nie werk nie, algemene paniek wat kan lei tot plundering, uitverkoping van algemene lewensmiddele in winkels en talle ander algemene funksies wat kan staak weens die nie-funksionering van kommunikasiestelsels.

‘n Tekort aan kontant weens die onvermoë van die bankstelsel om te funksioneer en verlate woonbuurte indien bure kies om elders heen te gaan, kan sekerheidsrisikos inhou. ‘n Verhoogte behoefte aan brandstof – hierdie omstandighede kan u dwing om vir sekere lewensmiddele te moet ry, wat ‘n ekstra las op ‘n brandstofvoorsiening sal plaas.

Soos u kan sien, is daar talle omstandighede wat u op verskeie maniere in ’n moeilike situasie kan plaas, ‘n situasie wat in u eie huis kan voorkom lank voor anargie en geweld u forseer om u woning te verlaat.

Begin dink aan hierdie toestande en spreek dit daadwerklik aan.