‘n Bekende gesig van oom Nicolaas is toe hy aan sy beste vriend, Boy Mussmann vertel het hoe hy in die rebellie sy perd se maanhare nie kon sien nie, maar dat dit in die tye wat kom so donker gaan word dat hy sy hand nie voor sy oë kon sien nie.

Oom Boy het toe gevra hoe enige iemand dit kan oorleef, waarop oom Nicolaas geantwoord het “Vir diè wat weet, sal dit nie so erg wees nie.

Suidlander, jy is ingelig, dalk ingeskakel by die Noodplan, maak aanspraak daarop dat jy weet wat kom. Jy roem dat jy weet, en met hoop en verwagting dat jy een van daardie is wat nie onkant gevang sal word nie, want jy weet, en dat dit vir jou ook nie so erg sal wees soos vir die duisende onvoorbereides wat miskien net met die klere aan hulle lyf die komende anargie en vlugtelingtoestand sal moet aanpak nie.

Daar is baie mense wat die Vader geseën het met die insig en kennis om te weet wat kom. Mense wat jare se waarskuwing, Suidlander skrywes, voorbereidingshulp en motivering, en al die bystand wat nodig is om deeglik voor te berei, tot hul beskikking gehad het. Steeds is daar mense wat saam praat, deel is, oortuig is en weet wat kom, maar wat nie met die nodige erns hul voorbereiding op standaard kry nie. Hoeveel van u het werklik ‘n jaar plus se kosvoorraad? Hoeveel van u kan onafhanklik drinkwater suiwer, stoor, en vervoer? Hoeveel dieselvoorraad het u werklik?

Om slegs te weet, is nie genoeg nie. Om te reageer, voorbereiding te tref, en u dinge in plek te kry omdat u weet, is die voorvereiste om te kwalifiseer vir daardie groepering waarvoor dit nie so erg sal wees nie.

Moenie uself, en nog erger, u familie flous deur te dink ‘n halfhartige voorbereidingspoging gaan u vrywaar van die verskriklike tye wat vir hierdie Boervolk voorlê nie. Hanteer hierdie waarskuwing met die nodige erns.