Een van die mooiste skrifte vir my het ek in die Lewende Bybel gaan opsoek. Mal 3:16-18: “Maar die wat vir die Here ontsag gehad het, het met mekaar oor Hom gepraat. Die Here het dit agtergekom en gehoor wat hulle sê. Hy laat toe in ‘n boek ‘n verslag skryf oor almal wat vir Hom ontsag het en Hom eer. In verband met hierdie mense het die Almagtige Here self gesê: ‘Hulle sal my kosbare besitting wees op die dag wanneer Ek optree. Ek sal hulle met meegevoel behandel, soos ‘n mens optree teenoor sy kind wat hom met gehoorsaamheid gedien het. Daardie dag sal julle sien wat ‘n geweldige verskil Ek maak tussen mense wat aan my bevele gehoorsaam was en My gedien het en die wat verkeerd gedoen het en My nie wou dien nie.’”

Ons sien in die eerste plek ons moet praat oor die Woord en daaroor nadink. Spreuke 10:11: “Die woorde van die regverdige bring lewe en geluk; agter die mooi woorde van die goddelose steek daar geweld.”

Diè wat positief praat en gehoorsaam bly is die Vader se kosbare besitting. Onthou Hy het opgemerk hoe Israel hulle teen Hom verset het. Numerie 14:26, 28: “So seker as Ek leef, Ek sal met julle maak soos Ek julle hoor sê het.” En in vers 28 staan: “Hulle sal die gevolge van hulle ontrou moet dra…”

Wat het hierdie ommeswaai by die volk veroorsaak? Hulle het ophou soek na die Vader, en voor hulle weet, het hulle Hom versaak. Onthou vars oorgawe elke dag.

Met ander woorde, as ons die Woord bestudeer en saamstem daarmee ten spyte van omstandighede, gevoelens of emosies, bly ons lewend in die Vader en dood vir die sonde. (Rom 6:11)

Dawid roep uit na die Vader in Psalm 141:3,4: “Sit ‘n wag voor my mond, Here, hou tog wag oor wat ek sê. Hou my gedagtes weg van verkeerde dinge…

Liefdegroete
Anen