Leuentaal vlieg soos herfsblare orals rond – kleintjies, grotes, geeles, rooies, bruines en nog meer. Dit waai by die voordeur in en word hopenlik by die agterdeur uitgevee. Ons maak hope bymekaar vir die kompos of om te verbrand. Soms is die blare baie mooi, maar almal is gedoem tot vernietiging want die kanaal na lewe is verbreek.

Dryf jy iemand in ‘n hoek met ‘n vraag, glip die noodleuen, asof vanselfsprekend, by sy mond uit. Of dit nou is om verskoning te maak vir iets, of om hom los te lieg uit ‘n situasie, wat ookal, die gevaar lê hierin dat hy hom kan vas lieg. En dan staan die ou liegbek met ‘n rooi gesig. O ja! Ons is almal skuldig hieraan. Gerieflikheidsleuens is amper-amper sosiaal aanvaarbaar. Maar “nee!” sê Jesus. Matt 5:37: “Laat julle ‘ja’ eenvoudig ‘ja’ wees en julle ‘nee,’ nee. Wat meer gesê word as dit, kom van die Bose.

Ek dink, as ons begin uitbrei en voortborduur oor ‘n situasie, kan die vyand sy stem kom bylas, en ongemerk word dit ‘n leuen. Kan ons ernstige bedrog en ‘n wit leuentjie in dieselfde kamp injaag? Verseker het hulle dieselfde oorsprong.

In Joh 8:43 – 45 sê die Here: “Waarom begryp julle nie wat Ek sê nie? Omdat julle my boodskap nie kan verstaan nie! Julle is kinders van die duiwel; hy is julle vader en julle wil doen wat julle vader wil hê julle moet doen. Hy was van die begin af ‘n moordenaar en hy staan nie aan die kant van die waarheid nie, omdat daar geen waarheid in hom is nie. Wanneer hy leuentaal praat, is dit volgens sy aard, want hy is ‘n leuenaar en die vader van die leuens. …as ek dan die waarheid praat, waarom glo julle nie in My nie?

Jesus sê vir die ongelowige Thomas in Joh 14:6: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe…” Alles wat Jesus sê, wat Hy doen… alles is die waarheid. Ons kan Hom glo en Hom navolg.

Jesus belowe in Joh 8:31,32: “As julle aan my woorde getrou bly, is julle waarlik my dissipels. En julle sal die waarheid ken en die waarheid sal julle vrymaak.”

Groete, Anen