Logistiek 3

Kosvoorbereiding

Oor die jare het ons lede baie ondervinding en nuttige wenke aangeleer in terme van die voorbereiding, verpakking, berging, ens. van voedselvoorraad. Wat hier belangrik is om met lede te deel is nie net die eindelose lyste wat ons oor die jare saamgestel en aangepas het nie, maar ook hoe ‘n lid wat nou opnuut begin met voorbereiding, dit in ‘n goed uitgewerkte proses kan afhandel.

Om kosvoorrade aan te skaf wat genoegsaam is vir ‘n familie vir een tot twee jaar, kan ‘n oorweldigende gedagte en ‘n baie duur projek wees. Daar is ‘n sekere metode wat gevolg kan word in die opbou van kosvoorrade. Behandel dit met u lede. Dit werk soos volg:

Die eerste stap is om te fokus op absolute oorlewing en om dit so goedkoop as moontlik afgehandel te kry in so kort as moontlik tyd. Om daarna u voorraad meer gebalanseerd en aangenaam te maak vir verbruik, en om selfs hierdie uitbreidingsproses so goedkoop as moontlik te doen.

Begin deur heel eerste die goedkoper stapelvoedsels aan te koop in massa vorm. Daar kan eerstens mieliemeel, rys, koring, en broodmeel in massa vorm (bulk) aangekoop word. Koring kan vir broodmeel gemaal word, opgekook word, by bredies gevoeg word, of ontkiem word vir ‘n gesonde slaai en kan duisende jare hou sonder om te verval as dit reg verpak word, waar broodmeel ‘n vervaldatum het. Vier of vyf families kan saamspan om op een slag hierdie stapelvoedsels op grootmaat by meules en verspreiders aan te koop en dan tussen mekaar te verdeel.

Koop hierdie stapelvoedsels in genoegsame kwantiteit dat die volledige termyn wat u beplan om te oorleef daardeur gedek word. Wanneer hierdie punt bereik word is u familie reeds buite gevaar van hongersnood. Die proses verskuif nou fokus na uitbreiding om etes meer aangenaam en gebalanseerd te maak.

Uitbreiding van verskeidenheid en smaak geskied ook op ‘n sekere proses. Hiervoor word nie net smaak in gedagte gehou nie maar ook voedingswaarde, vitamiene en minerale inhoud en die koste daaraan verbonde.

Koop die volgende items in die volgende volgorde op gemeenskaplike basis in grootmaat aan:

Sout, Speserye, Geurmiddels

Aangesien daar altyd dierlewe, vislewe, en vee tot ‘n meer of mindere mate beskikbaar sal wees, is sout en speserye die goedkoopste metode om vleis wat beskikbaar raak te geur en u stapelvoedsels te laat aanvul. Wanneer vleis beskikbaar is kan dit ook natuurlik gegeur word deur beesaftreksel (Beef Stock) te maak. Dit word gedoen deur ‘n klein hoeveelheid vleis, bloed of aftreksel in ‘n pan te brand. Hierdie aanbrandsel word dan met bietjie water opgelos om ‘n sterk geurige vloeistof te produseer.

Klein hoeveelhede speserye maak ‘n groot verskil in die voorbereiding van vleisdisse. Die mees voedsaamste en vullendste vleisdisse is om vleisbredies of soppe op te kook met ‘n sterk gegeurde aftreksel en te verdik deur broodmeel by te voeg. Dit is vullend, voedsaam, smaaklik en bedien baie meer mense as wanneer vleis slegs gebraai word.

Soppe, Bistro, Worcestersous, Beefstock blokkies, Soja maalvleis mengsel, ens.

Hierdie items maak dit moontlik om vleis en/of sousdisse by stapelvoedsels te voeg sonder dat vars vleis beskikbaar is. Beefstock blokkies en Worcestersous bevat albei ‘n volledige reeks soute en minerale wat nodig is vir liggaamsfunksie. Worcestersous kan in kleinmaat skoon ingeneem word en Beefstock blokkies kan in warm water opgelos word om ‘n warm drankie te maak.

Deel ook met u lede dat wanneer daar vleis bekom word wat oor ‘n tydperk geëet kan word weens die hoeveelheid daarvan, dat vars vleis dae lank bruikbaar bly in koue winterstemperature, maar in ‘n dag of twee kan bederf in warm somerstemperature. In omstandighede waar vleis vir langer as ‘n week in koue temperature gehou moet word, en langer as ‘n dag in warm temperature, is dit beter om al die vleis gaar te maak en in gaar vorm te stoor – dit hou langer.

Daar is ook metodes om gaar vleis in te lê en met vet te seël. Dit sal vleis vir baie maande behoue laat bly. Doen self navorsing hieroor en verryk u kennis.

Gedroogte groentes, Eierpoeier, Soja, Droë ertjies (split peas), ens.

Hierdie items is handige voedselsoorte wat goedkoop ‘n maaltyd meer gebalanseerd kan maak en liggewig in terme van ‘n onttrekkingssituasie. Droë ertjies is een van die handigste metodes om substansie by ‘n bredie te voeg. Dit vereis egter ‘n lang kooktyd en dus meer kook-energie. Op hierdie stadium is lede redelik gebalanseerd voorberei wat etes betref en kan daar reeds vir lang tye oorleef word.

Op hierdie punt moet lede begin om die ‘nice-to-haves’ aan te skaf. Hierdie proses word ook met ‘n sekere metode uitgevoer.

Indien u nie reeds u kruideniersware by groothandelaars aankoop nie, begin dadelik om daardie gewoonte aan te leer. Koop eenkeer per maand kruideniersware by groothandelaars in plaas van om kruideniersware soos benodig word by duur kleiner winkels aan te koop.

Begin u eie brood bak deur ‘n broodmasjien aan te skaf – dit halveer die koste van brood. Koop ook melk (Longlife melk of sakkies wat gevries kan word) in grootmaat en slegs winskopies. Die gemiddelde familie gebruik een brood en 1.5 liter melk per dag wat ongeveer R1 100 per maand beloop by tye van hierdie skrywe indien onoordeelkundig aangekoop word.

Deur self te bak en melk winskopies op grootmaat te koop, kan hierdie koste aansienlik gesny word. Indien u laevet melk gebruik, kan u ook volroom melk koop en dit met water verdun. Dit kan reeds byna helfte van normale brood- en melkkoste sny.

Die bogenoemde dien as voorbeeld van hoe daar op elke vlak van u voorbereiding gehandel behoort te word. Wanneer u nou eenmaandeliks u kruideniersware vooruit koop, wees op die uitkyk vir winskopies. Verdubbel of vertrippel nou die aankoop van spesifieke items wat op goeie aanbod beskikbaar is. U sal dan byvoorbeeld in een maand twee of drie keer meer tamatiesous, soppe, toiletpapier, wasgoedseep, rys, suiker aankoop. Hou aan met hierdie proses sodat daar elke maand ander items addisioneel bygekoop word omdat dit ‘n goeie winskopie is.

U sal dus binnekort u een maand aankope stelselmatig opbou totdat daar twee of drie maande se voorraad van kruideniersware in u huis is.

Op hierdie stadium moet u noukeurig rekord hou van wat per winskopie addisioneel aangekoop is en soek na items wat nog kort kom om ‘n volledige kruidenierslys te hê waarvan drie maande in u koskaste is. Wanneer u hierdie stadium bereik waar u drie maande se voorraad het verander die metode van aankope – van nou af koop u slegs winskopies aan.

Die drie maande voorraad stel u in staat om drie maande te soek na enige spesifieke item om op spesiale aanbod beskikbaar te kom. Wanneer u hierdie stadium bereik, vind kruideniersware aankope teen ‘n besonderse lae koste plaas en kan u deur dieselfde hoeveelheid geld te spandeer baie vinnig luukshede aanskaf om u bestaande kosvoorbereiding uit te brei.

Hierdie metode voldoen ook aan die voorbereidingsbeginsel van ‘koop wat jy eet en eet wat jy koop’. Probeer voorkom om kossoorte aan te skaf vir voorbereiding wat nie deel vorm van die normale spyskaart in u huishouding nie.

As logistieke leier kan u hier die student inlig dat ons ‘n besonderse stresvolle tyd ingaan en dat daar baie voordele is vir u familie se geestestoestand wanneer bekende en smaaklike maaltye voorgesit kan word. Skielike aanpassings in voedselroetine het drastiese implikasies op die fisiese welsyn van mense asook die psigiese welstand.

Onthou om nuwe lede in kennis te stel van die belangrikheid om kosvoorrade wat in houers verpak word te merk volgens die datum van verpakking en om kosvoorrade gereeld te sirkuleer met nuwe aankope. Behandel ook die verskillende verpakkingsmetodes en bespreek die rakleeftyd van verskillende voedsel items. Onthou ook dat die bergingstemperature van kos ‘n drastiese impak op rakleeftyd het.

Word vervolg.

Deur | 2018-09-13T20:21:07+00:00 13 September, 2018|Kategorieë: Ander, Belangrike Kennisgewing, Hoekom Suidlanders, Kos, Voorbereiding|