Hoe voel ons in hierdie onseker, donker tye? As ons uit die Lig beweeg oorrompel gevoelens van wanhoop, onsekerheid, vrees en al hierdie gogga-emosies ons. Die duisternis sal sekerlik elke geleentheid gebruik om ons aan te val. Die vyand poog om ons te laat vergeet dat daar alreeds alles aan ons voorsien is deur Jesus se genade en barmhartigheid.

In Markus 10: 46-52 sien ons vir Bartiméüs, ‘n blinde bedelaar, in die stof langs die pad sit. Kyk mooi, ons situasie maak van ons ook blinde bedelaars – totaal afhanklik. Dis eintlik ‘n goeie plek om te wees – is ja! Dit het Bartiméüs laat uitroep na Jesus want sy situasie het hom laat besef dat daar net een uitkoms vir hom is. Hy het ‘n besluit geneem en standpunt ingeneem.

Hy het uitgeroep: “Seun van Dawid, Jesus, wees my barmhartig!” Baie mense het hom bestraf en gesȇ dat hy moet stilbly. Só werk die vyand deur mense wat nie saamstem nie. As hulle dink dat iets ‘weird’ of onbekend is, sal hulle die geestelike rem wil aandraai. Dit sal die vyand mos uitstekend pas.

Dis sekerlik medegelowiges wat aanmoedig: “Hou goeie moed! Staan op! Hy roep jou.” Bartiméüs staan toe nader. Aag, luister mooi wat Jesus vra: “Wat wil jy hȇ moet Ek vir jou doen!” Jesus weet wat ons nodig het, maar ons moet met Hom praat daaroor.

In sy blinde toestand, bang en uitsigloos, sȇ hy: “Rabboeni, dat ek kan sien.” Jesus sȇ daarop vir hom: Jy kan maar gaan, jou geloof het jou gered.” (vers 52)

Dit is ‘n boodskap vir ons tyd, ‘n tyd waar ons blind, bang, uitsigloos en bekommerd kan wees. Bestraf dit! Dit is nie die Vader se boodskap aan ons nie. Neem standpunt in, Hy sȇ tog: “Wat kan Ek vir jou doen?” Ek sou sȇ ons gebed moet wees: “Here, gee ons asseblief bonatuurlike geloofsvertroue.” So ‘n vaste vertroue dat die wȇreld sal sien – ons geloof het ons gered.

Bid vir mekaar.

Liefde

Anen