My kind betree die wonderwêreld van geestelike oorlogvoering. Sy werk onder moeilike, uitdagende omstandighede. Alles gaan goed, maar skielik ondervind sy hewige teenstand op plekke waar sy dit nie verwag het nie. Nou ja? Oorlogvoering impliseer mos dat daar ‘n weerwraak (retaliation) sal volg. Hy vat ‘n paar ‘punches’ en begin dan terug betaal in gelyke munt. Nee wat! Dis nie gelyke munt nie want die Vader het voorsiening gemaak, Skrif gegee, wysheid voorsien, ons vrees weggevat en ook Sy almagtige teenwoordigheid beskikbaar gestel.

Hoekom volg ons ‘n dokter se voorskrifte so noukeurig? Want ons wil hierdie siekte se ongerief en pyn weg hê. Die hele Skrif is ook vol voorskrifte wat ons heel en gesond maak, en ons lewens ingrypend kan verander. Ons betroubare Geneesheer het raad vir alles: vrees, bekommernis, uitsigloosheid, ongeloof, minderwaardigheid, depressie, en nog vele meer. Eksodus 15:26: “…want dit is Ek die Here wat julle gesond hou.” Lees ook Psalm 103:13 en Jeremia 19:14.

Maar ons gesels mos oor die weerstand wat ons moet bied. Moenie onkant betrap word nie! Een van die dinge wat ons moet onthou, is dat ons onder hierdie oorlogsomstandighede positief moet bly. Geen bitterheid, woede, ens. mag ons teenstand kom verswak nie. En hier is ‘n taai toffie: Kyk verby die persone wat aanval. Bid vir hulle! Is ja! Dit is wat die Vader van sy gesonde soldate verwag. (Matt 5:44)

Nog iets om te onthou, neem standpunt in teen die vyand soos in Efesiërs 6:13. Lees Kron 20:15-17. Vers 16b -17: “…moenie vrees nie, moenie bang wees vir hierdie groot menigte nie, want hierdie oorlog is nie ‘n saak vir julle nie maar vir God. Julle hoef nie te veg nie, neem net posisie in en staan en kyk na die oorwinning van die Here vir julle. Moenie vrees nie…”

Gehoorsaam die Vader te midde van aanslag, en die oorwinning is verseker. Jesaja 54:17  “Geen wapen wat gesmee word om jou aan te val, sal iets uitrig nie; elkeen wat vals teen jou getuig sal gestraf word. Dit is hoe ek die Here, vir My dienaars sorg. Ek laat geregtigheid aan hulle geskied, sê die Here.

Groete, Anen