Wat gebeur as die krag landswyd afgaan. Praktiese Wenke – Deel 5

Die volgende praktiese wenke geld vir ‘n nasionale  kragineenstorting. Hou in gedagte dat hierdie ook van toepassing is indien u in kleiner dorpies in die platteland woon. Die artikel is dus nie bedoel om u te oortuig om nie ‘n groot dorp of stad te verlaat nie. Sommige sulke kleiner dorpies is dalk reeds in veilige gebiede, of kan vir ‘n redelike lang tyd na ‘n nasionale kragonderbreking nog stabiel wees.

Die beste optrede bly altyd om areas van hoë populasie en infrastruktuur te verlaat.

Verder sal u vind dat baie van die voorbereidingswenke vir nasionale kragonderbreking oorvleuel met normale voorbereiding vir anargie en onttrekking. Ons fokus in hierdie artikel net op die kragonderbreking gedeelte.

Die volgende punte word hierin bespreek:

  1. Wees ingelig en tref vooraf reëlings
  2. Fisiese voorbereiding van nasionale ineenstorting
  3.  Onmiddelike optrede by nasionale ineenstorting

Wees ingelig en tref vooraf reëlings

  • Baie mense maak daagliks gebruik van ‘n onbeperkte bron van inligting wat op die internet beskikbaar is. Sonder krag is hierdie bron skielik nie meer beskikbaar nie. Kom nou in die gewoonte om nuttige webwerwe wat u besoek op u rekenaar te stoor. Maak ook ‘n lys van verskillende onderwerpe soos Noodhulp, Inleg van kos, Identifisering van verskillende siekte simptome, ens. Probeer om elke dag ‘n onderwerp na te vors en op die rekenaar te stoor, die idee is nie om dit elke dag te lees nie, maar om ‘n databasis van informasie op te bou.
  • Gaan ry rond in die omgewing en kyk na paaie wat u vinnig uit die dorpsgebied kan bring. Kyk waar plakkerskampe teen die paaie lê, en let op waar u roetes hoofweë kruis, dit is waar verkeersopeenhoping moontlike blokkasies kan veroorsaak. Let ook op waar u die pad kan verlaat en met watse voertuie u op watter plekke deur die veld kan ry as drade geknip moet word. Teken hierdie inligting op ‘n kaart aan, indien u deur die nag daardie paaie moet ry, sal u nie weet hoe die terrein langs die pad lyk nie.
  • Vind uit watter petrolstasies in u omgewing kragopwekkers het, dit is waar u tydens ‘n kragonderbreking nog brandstof sal kan kry.
  • Vind uit watter kruidenierswinkels kragopwekkers het, hulle bevrore produkte gaan langer as ander winkels hou.
  • Gaan ry in u omgewing rond wanneer u area beurtkrag het, en let op hoe dit verkeersvloei affekteer op verskillende tye van die dag.
  • Let op watter besighede en dienste skielik staak en sluit wanneer beurtkrag toegepas word.
  • Bespreek die onderwerp met u familie sodat daar ‘n vooraf optrede vasgestel word met betrekking tot wie die kinders by die skool kry, of julle dadelik huistoe gaan, dadelik voertuie vol brandstof maak, ens.
  • Let op watter huise in die woonbuurt bordjies het wat sê “eie boorgat” en as u met bure gesels, vind uit of die boorgat pompe enkel of drie fase krag gebruik.
  • Kyk na die terrein van u woonbuurt en probeer vasstel hoe vêr die rioolstelsel met gravitasie beweeg en op watse punte (hoe vêr van u woongebied) pompe of rioolsuiweringsaanlegte is.
  • Vind uit volgens watter laagliggende vloeiroetes rioolstorting kan plaasvind.
  • Indien natuurlike hulpbronne naby u voorkom, stel vas waar en tot watter mate rioolstorting die water sal besmet.
  • Vind uit hoe drinkbaar natuurlike waterbronne in u omgewing is.
  • Let op waar die naaste windpompe voorkom.
  • Let op watse wild en vee getalle in u direkte omgewing voorkom.
  • Let op teen watse tempo u vrieskas inhoud se temperatuur verhoog as die krag afgaan.
  • Bespreek met vriende en bure in u woonbuurt wat hulle optrede gaan wees indien krag sou afgaan. Aangesien die onderwerp gereeld in die media voorkom, is dit nie ‘n snaakse vraag as u vra “Wat gaan julle doen as die krag nasionaal afgaan?” Dit kan lei tot ‘n langer gesprek wat dalk gesamentlike beplanning en voorbereiding sal tot gevolg hê. Dit sal u ook bewus maak van die optrede van mense in u omgewing of dorp.
  • As u aan ‘n polisieforum of gemeenskapsinsisiatief behoort, noem die onderwerp op ‘n vergadering en probeer ‘n besprekingspunt daarvan maak. Indien daar goeie belangstelling is, kan Suidlander Betuur moontlik ‘n praatjie aanbied of volledige inligting deurstuur.
  • Let op waar misdaad soos kapings, inbrake, ens. meer gereeld voorkom wanneer kragonderbrekings voorkom.
  • Wanneer u met mense in u dorp of buurt gesels, vis uit wie vuurwapens het, asook hoeveelhede daarvan en ammunisie.
  • Maak reëings met bejaarde vriende en familie om in so ‘n tyd te kom kuier.
  • Indien u voorbereiding tref met ander voorbereides om vir veiligheid saam te woon tydens so ‘n tyd, doen die fisiese voorbereiding slegs by die huis wat u gaan gebruik en beweeg dadelik daarheen.

Lees volgende keer verder oor onmiddelike optrede met, en fisiese voorbereiding vir nasionale krag ineenstorting.

Deur | 2019-03-12T21:36:45+00:00 12 Maart, 2019|Kategorieë: Belangrike Ontleding, Eskom, Wat gebeur as die krag landswyd afgaan.|Sleutelwoorde: |