Puntjie Van Die Ysberg

Die Kaapse waterkrisis is die puntjie van die ysberg. In die onsigbare is daar tientalle sulke rampe wat wag om te gebeur. Mens kan maklik die indruk skep dat hierdie ‘n risiko is, iets wat moontlik kan gebeur, iets wat kan verkeerd loop. Dit is nie wat ons hier sê nie.  Dit moet duidelik gestel word dat die rampe waarvan ons praat geboek is. Dis onvermydelik.

Tammy Wessels van die Vryheidsfront Plus se wetgewer in Bloemfontein stel dit so: “Die voortdurende verval van die Vrystaatse munisipaliteite is ‘n bewys dat die provinsie ‘n sinkende skip onder die ANC regering is wat op ‘n volhoubare wyse voortstu.

Wessels het ‘n verklaring uitgereik wat volg op ‘n vergadering wat Woensdag gehou is deur die wetgewer se portefeuljekomitee oor samewerkende regering en tradisionele sake. “Die skade is onomkeerbaar groot en sal nooit onder ‘n regering kan herstel wat sulke skrikwekkende agteruitgang in die eerste plek bewerkstellig het nie.

Munisipaliteite in die proses om te sink wat voor die komitee moes verskyn bestuur dorpe naamlik Mafube, Villiers, Tweeling, Frankfort, Cornelia, Brandfort, Theunissen, Verkeerdevlei, Winburg, Tweespruit, Exelsior, Ladybrand en Hobhouse. Die munisipaliteite betaal huidiglik ook nie siekefonds en pensioenfondsbydraes van werknemers aan die fondse oor nie, dit word gebruik om munisipale uitgawes te dek.

Infrastruktuur- en diensleweringprobleme soos gehawende water- en rioolstelsels word nie in stand gehou nie. Die gevolge is watertoevoer en rioolstelsels wat ingee, gereeld krane wat leeg loop en riool wat in paaie afloop. Matjhabeng munisipaliteit skuld Eskom en Sedibeng Water onderskeidelik R1,74 miljard en R1,98 miljard en het in Desember verlede jaar R3,73 miljard se ander skuld gehad.  Malutu-A-Phofung munisipaliteit se skuld was teen Desember R2,71 miljard.

Hierdie bestuurstrukture bestaan nog net in beginsel en staan geen kans op oorlewing nie. Komende anargie is nie ‘n moontlikheid nie, dit is ‘n gegewe.