Kragvoorsiening

Dit is algemeen bekend dat swaar tye innovasie stimuleer. Talle ontleders het in die verlede al gewaarsku teen die gevare van die ‘goeie tye’. In hierdie tye laat ‘n samelewing na om planne te beraam en gereed te maak vir moeilike tye. Alhoewel byna elke deel van Suid Afrika se politiese, sosiale, ekonomiese en infrastruktuur entiteite onder druk verkeer, is dit effe anders met kragvoorsiening.

Swak ekonomies groeitoestande het veroorsaak dat daar ‘n baie lae aanvraag vir krag bestaan. Weens die swak ekonomie, bespaar mense krag en sluit besighede wat in groeitoestande groot hoeveelhede krag vir produksie sou gebruik. Die stabiele kragvoorsiening wat ons tans beleef, staan in kontras met die geweldige beurtkrag wat ons tot onlangs geteister het.

Hierdie verligting in die oënskoulike suksesvolle voorsiening van elektrisiteit is slegs weens daardie lae aanvraagtoestande. Dit hou twee gevare in, eerstens veroorsaak hierdie goeie tye dat onderhoud en verdere ontwikkeling selfs meer afgeskeep word. Tweedens beteken dit dat enige positiewe ekonomiese toestande groot en bykans onmiddelike druk op kragvoorsiening sal veroorsaak.

‘n ‘Catch 22’ soos die Engelsman sê. Met swak ekonomiese groei gaan ons eventueel in duie stort, positiewe ekonomiese groei gaan ons kragnetwerk in duie laat stort.