Die sektore en ontvangsproses wat binne hierdie sektore plaasvind moet deurentheid ingeoefen, opgeskerp, en nagegaan word. Hierdie evaluasieproses moet deurentheid plaasvind en word vir praktiese doeleindes eers stuk vir stuk gedoen totdat ons later ‘n nasionale sektor ontvangsoefening gelyktydig kan uitvoer. Met hierdie geleentheid sal Suidlander bestuur die sektorlyn per vliegtuig vanuit die lug nagaan en evalueer.

Een so ‘n oefening vind oor drie weke plaas in ‘n sekere gebied wat ongeveer een sesde van die totale sektorlyn uitmaak. Ongeveer 9 sektorbevelvoerders sal by hierdie geleentheid oor drie dae die gedeelte van die sektorlyn deurtoer. Tydens hierdie toer sal elke sektorbevelvoerder die kans kry om ‘n volledige aanbieding van sy eie sektor aan senior leierskap te gee.

Tydens hierdie aanbieding moet daar ‘n volledige omskrywing van relevante inligting rakende die bevelvoerder se sektor gelewer kan word. Sektorbevelvoerders word tydens hierdie toer vergesel deur hulle 2 IB’s, logistieke hoofde, ontvangshoofde, VBS hoofde, sekerheidshoofde en kommunikasiehoofde. Relevante inligting wat tydens hierdie toer deur elkeen aangebied moet word, sluit die volgende in – Gebruik hierdie lys as riglyn vir toekomstige aanbiedings:

  • Die fisiese uitleg van die sektor, gekarteer.
  • Penetrasieroetes, gekarteer.
  • Verwagte provinsies aankomend op hierdie roetes, gekarteer
  • Afkeerpunte, gekarteer.
  • Ontvangspunte, gekarteer
  • Weerbare uitplasing, gekarteer
  • Nie-weerbare uitplasing, gekarteer
  • Dui aan waar moontlike tregterpunte (choke points) kan voorkom.
  • Risiko punte
  • Vyandige persone, ens.
  • Ligging en hoeveelhede van vee, silos, natuurlike waterbronne, mensgemaakte waterbronne, beweegbaarheid van roetes, terrein beperkings, brandstof voorrade, ander kosvoorrade, behuisingsfasiliteite, bestuursfasiliteite, riolering, kragvoorsiening, HK gebiede, kommunikasievermoë, viertrek beweegbaarheid (4×4), trekker beweegbaarheid, ens.
  • Terreinwaarderings in terme van sigbaarheid van die omgewing, observasieposte, patrollieroetes, verdedigbaarheid, meg. begaanbaarheid, versteekbaarheid, dekking en beskutting.
  • Beskikbaarheid van die nodige toerusting vir u sektor met betrekking tot tekens, kennisgewings, tente, tafels en stoele, waterstoring en -suiwering, sanitasiegeriewe, kookgeriewe, slaapgeriewe, administratiewe toerusting, kommunikasietoerusting, brandstof, elektroniese toerusting soos skootrekenaars, elektroniese kommunikasie soos wifi, ens.

Die toenemende risiko vir anargie in Suid Afrika noodsaak ons om ons leierskap en personeel se dissipline en toegewydheid deurentheid op te skerp en te verhoog. Sektorpersoneel kan nie hierdie inspeksietoere mis nie, en diegene wat nie op standaard is in die oprigting van hul sektore nie, sal toenemend onder druk kom om hierdie kritiese skakel in die Suidlander Noodplan op standaard te kry.

Ons sien uit na ‘n opwindende sektor toer en sal u na afloop daarvan volledige terugvoer gee.

Suidlander groete