Hierdie vakansietydperk het ons ‘n paar toetse gedoen by HK om te kyk of ons kamptoerusting geskik en voldoende is. Wat veral bewys het omstandighede te bemoeilik, was hoë temperature en winderige toestande. In warm somerstoestande was daar ook veral baie vlieë en saans ook ander goggas.

Ons wil sterk aanbeveel dat lede heelwat skadunet aanskaf om by hul voorbereiding aan te vul. Skadunet is relatief goedkoop, liggewig en kan veelvuldige gebruike hê. Eerstens is dit effektief om tente en karavane mee af te koel as dit ‘n half meter of so bo die tent of karavaan gespan word. ‘n Gedeelte daarvan kan voor ‘n karavaandeur of tentingang gehang word om te voorkom dat vlieë en ander insekte binne kom.

Skadunet kan ook om ‘n gazebo gespan word om vlieë uit te hou, terselfdertyd dien dit as effektiewe windbreker wanneer dit vertikaal styfgespan word. Skadunet dien ook as goeie grondseil en kan selfs aangewend word om koelgeriewe, filters, viskuipe, ens mee te maak.

As u nog voorstelle het, kan u dit gerus deurstuur na [email protected]

Hou ‘n goeie voorraad hiervan in u voorbereiding aan.