Snaakse Dinge

Kom ons veronderstel hierdie hipotetiese snaakse situasie. Die blanke ‘establishment’ in Suid Afrika wag al jare vir die morele hoёgrond om ‘n tussentydse Doringbos regering in te stel. Iets wat hulle soos toentertyd weer groot geld sal laat maak.

Hiervoor benodig hulle ‘n totaal disfunksionerende ANC wat deur die wêreld as nie-legitiem beskou word. Die ANC, en so ook elke swart rewolusionêr in Suid Afrika, wil elke faset van hierdie land dekolonialiseer. Die mooi slim woord vir verontwesters.

Beide hierdie maghebbers kan hul punt net deur anargie bereik.

So, veronderstel vir ‘n oomblik dat Malema doelbewus gestuur is om ‘n radikale en rewolusionêre party te stig wat ten doel het om die ANC verder na links te trek. Veronderstel die snaakse gedagte dat Zuma ‘n tien jaar termyn begin het met die opdrag om te plunder, die ekonomie die grond in te dryf, en elke staatsdepartement tot op die randjie van verval te dwing.  Dis moeilik om ‘n land per ongeluk só te vernietig soos wat die Zuma administrasie kon doen.

Veronderstel vir ‘n oomblik dat die einde van die tien jaar leierskap van oom Nicolaas se Zulu-Impi nou aangebreek het. Is dit nou ‘n magdom reёlings wat vinnig in plek moet kom? Zuma is die perfekte verskoning vir ‘n land wat in duie stort, vir ‘n Kaapse waterkrisis, vir ‘n massa staking wat dreig om die land lam te lê.

Hoekom vlieg Zuma in die geheim na buurlande? Hoekom vind uitgerekte onderhandelinge met Zuma plaas as Ramaphosa sê dat daar geen kwytskelding vir hom op die tafel is nie? Hoekom word daar net kort van ‘n hele weermag na Kimberley geskuif vir ‘n feesviering (waarby Zuma ‘n toespraak moet lewer)?

Hier is snaakse verwikkelinge aan die gang. Afrika is ‘n snaakse plek, waar snaakse dinge skielik kan gebeur.