Stelselmatige Voorbereiding – Deel 2

survival kitOp die oorlewingsprogramme praat hulle altyd van Water, Voedsel, Vuur en Skuiling, hierdie afdelings kan ons verder opbreek vir effektiewe beplanning in maandelikse aankope. Ons moet hierby ook in gedagte hou dat ons nie ‘n op eiland vir ‘n maand afgelaai word nie, maar dat ons behoeftes baie verder sal strek as net die bogenoemde.

Brandstof, mediese voorraad, Skryfbehoeftes, Lesmateriaal vir skolering van kinders, beddegoed/komberse, klere, skoonmaak produkte, ens. kan ook onder andere op die beplanningslys geplaas word.

Besluit onder elke afdeling wat is krities om van te oorleef, asook wat tans u daaglikse behoeftes is (bv. tandepastas en borsels, skoonmaakmiddels, kroniese medisyne, kombuis gereedskap, ens) en skaf dit eerste aan. Ons gee nie hier naastenby volledige lyste nie, maar die inligting behoort genoeg te wees om u kop aan die gang te sit en volgens u eie behoeftes te beplan vir aankope.

Verdeel dan die volgende om maandeliks volgens u begroting aangekoop te word:

Brandstof:

Houers, Gas, Diesel, Petrol

Kosvoorraad:

Stapelvoedsel (Rys, Mieliemeel, Pastas ens), Sout, Soppoeiers is relatief goedkoop, kan nou al in die huis gebruik word en met nuwes vervang word en sal die honger stil in ‘n krisis situasie. Duurder, meer luukse kosse kan later aangekoop word as voorbereiding in plek is en daar is nog tyd.

Water:

Waterhouers en watersuiweringstablette asook ‘n vuuraansteker en potte om water te kook is prioriteit. Duurder watersuiwerings “gadgets” kan ook weereens later aangekoop word as tyd en geld dit dan toelaat.

Higiëne:

‘n Blokkie Sunlight Seep kan gebruik word vir die was van skottelgoed, wasgoed en vele meer. Dit is bekostigbaar en klein om in te pak. Indien daar nie tyd of finansies is om sakke waspoeier en skottelgoedseep later aan te koop nie, sal hierdie seep goud werd wees in die veld.

Bepaal u gesin se behoeftes en beplan hoeveel van elke item in watter maand aangevul gaan word.

Mediese voorbereiding:

Begin basies met ontsmettingsmiddels, pleisters, pynpille, stropies vir die kinders ens. Hierdie medisyne kan ook weereens nou al gebruik word en vervang word soos nodig. Hou altyd vervaldatums in gedagte.

Klerasie, komberse en Algemene benodighede:

Meeste van ons het ekstra klere, komberse, kombuisgereedskap, gereedskap ens in die huis. Pak dit solank vir gryp en gaan. Indien dit ‘n probleem is, maak ‘n lysie van hierdie items in die huis wat steeds gebruik word, maar vinnig met behulp van daardie lys bymekaargekrap kan word om te onttrek. Plak op elke deur wat in daardie vertrek op Nr.99 gevat moet word en delegeer aan groter kinders wie watter vertrek se lysie gaan hanteer in ‘n onttrekkingsituasie.

Kamptoerusting

Goedkoop tente is gewoonlik nie goeie kwaliteit nie, maar kan beter wees as niks, sou u in die veld opeindig. Win solank inligting aangaande tipe tente, pryse, kwaliteit ens. en sit solank elke maand ‘n bedraggie weg daarvoor. Dieselfde geld vir ander kamptoerusting.

Onthou, elke bietjie is beter as niks. Met goeie vooruit beplanning en die getroue maandelikse aankope van ‘n paar items sal u die vrugte pluk wanneer dit die nodigste is. Hou by die beginsel dat jy stoor wat jy gebruik, en gebruik wat jy stoor.

Sien gerus ons webtuiste onder ‘Voorbereiding’ vir meer vollediger lyste.

Deur | 2018-06-09T21:39:00+00:00 09 Junie, 2018|Kategorieë: Belangrike Kennisgewing, Belangrike Ontleding|