Lukas 18:9 – 11 “En Hy het ook met die oog op sommige wat hulleself vertrou dat hulle regverdig is en die ander verag, hierdie gelykenis vertel. Twee manne het na die tempel opgegaan om te bid, die een ‘n Fariseër en die ander ‘n tollenaar. En die Fariseër het gaan staan en by homself so gebid: o God, ek dank U dat ek nie soos die ander mense is nie … “
(vers 13) En die tollenaar het ver weg gestaan en wou selfs nie sy oë na die hemel ophef nie, maar het op sy bors geslaan en gesê: o God wees my, sondaar, genadig!
(vers 14) Ek sê vir julle, hierdie laaste een het geregverdig na sy huis gegaan eerder as die eerste een; want elkeen wat homself verhoog, sal verneder word, en hy wat homself verneder, sal verhoog word.“
Mens sien daagliks hoe broer teen broer opstaan, die een wat afpak oor sy/haar kollega, vriend, toekomstige skoonma, of wie-ookal, sien hom- of haarself as regverdig en onskuldig en al die blaam val op die party wat beskinder word. Sonder uitsondering is dit ‘n proses waar die ‘aanklaer’ homself by simpatieke ore verhoog. Kom ons noem hierdie optrede by die naam: Hel-gedrewe vrot vrugte.
Niemand is tog sonder sonde en kan oor ’n ander se sondes oordeel nie. Matt 7:1,2 sê: “MOENIE oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nie. Want met die oordeel waarmee julle oordeel, sal julle geoordeel word; en met die maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet word.“
Die antwoord op hierdie siekte van ons tyd is baie duidelik in die Woord,
2 Tim 2:11 “Dit is ’n betroubare woord; want as ons met Hom gesterf het, sal ons ook met Hom lewe.
Joh 12:24: “Voorwaar, voorwaar Ek se vir julle, as die koringkorrel nie in die grond val en sterf nie, bly dit alleen; maar as dit sterf, dra dit veel vrug.” (Kom ons meet ons optrede aan die vrugte in Gal 5:22-23.)
Ons sit elkeen graag op ons eie troon, ons moet sterf in onsself en ons Verlosser daardie ereplek gee. Dan eers sal ons vrug dra wat by die bekering pas, en sal elke konfliksituasie wat die vyand op ons pad bring, omgedraai word in ‘n getuienis.