Suidlander Opleidingsgroep: Moedersaad Produksie en Groentetuine

Ons groentetuin opleidingsgroep en saadprodusente opleidingsgroepe is lekker aktief en word gereeld van materiaal voorsien waarna besprekings plaasvind. Hieronder volg ‘n voorbeeld van so ‘n opleidingsessie. Die voordeel wat ons opleidingsgroepe inhou is meer persoonlike interaksie met hulp en bystand om groentetuine op dreef te kry. Volg gerus die skakel hieronder indien u ook by hierdie groepe wil aansluit.

SAAD PRODUSENTE: https://chat.whatsapp.com/El0XFtFw5lb1LDqnM7Y0my

GROENTE TUINE: https://chat.whatsapp.com/FWZga7b021vFXpJnRx8h4n

Goeie grond

Tydens die vorige sessie het ons gesels oor die belangrikheid van goeie grond.  In die volgende paar sessies gaan ons bespreek wat ‘n “goeie grond” maak.  Oor die algemeen het plante vier dinge nodig om goed te groei – sonlig, water, lug en voedingstowwe.  Drie hiervan is nodig in die grond en ons sal op ‘n latere stadium sonlig bespreek.

Water en Lug

‘n Goeie grond behoort water te kan hou soos ‘n spons, maar ook soos ‘n spons, alle oortollige water te kan dreineer weg van die plante se wortels af.  As die grond nie goed kan dreineer nie, kan die wortels versuip (dus geen lug beskikbaar nie).  Al die selle in ‘n plant het lug nodig om gesond te bly en onderskeidelik te funksioneer.  Dis maklik vir die dele van die plant wat bo die grond is.  Maar omdat die wortels ondergrond begrawe is, het hulle nodig om lug te kry van die klein spasies tussen die gronddeeltjies.

Swaar kleigrond word saamgestel uit baie klein deeltjies wat dig saamgepak is.  Hier is baie min lugspasies tussen die deeltjies, en dus verhoed dit ook goeie dreinering.

Sanderige grond aan die anderkant, word saamgestel deur baie groter gronddeeltjies met baie meer lugspasies tussenin.  Baie lug is beskikbaar vir die wortels maar al die water dreineer dan dadelik weg tussen hierdie spasies deur, en dit veroorsaak watervermorsing.  Jy sal ook baie meer gereeld moet plante water gee.  Dis ook belangrik om te onthou dat grond wat vinnig dreineer veroorsaak dat baie van die voedingswaardes saam met die water sal wegspoel voordat die wortels dit kan opneem.  Wat ‘n goeie waterhoudende grond betref, wil ons iets tussen ‘n klei grond en ‘n sanderige grond hê, dit word gewoonlik leemgrond genoem.

Wanneer die grond te sanderig is en water te vinnig dreineer, moet daar organiese materiaal bygevoeg word wat van die water sal terughou.  Baie goeie kompos sal ideaal wees aangesien dit ook baie voedingswaardes bevat wat die grond sal voed.  Kommersiële groenteboere en mark-tuinprodusente gebruik soms turfmos, kokosnootkos of vermikuliet vir ‘n sanderige grond – maar dit is ‘n duur opsie vir die tuistuinier.  ‘n Goeie opsie is om versnipperde blaarvullis of fyngekapte hooi of strooi of selfs gesnyde gras wat gedroog is in te meng by sandgrond.  Mettertyd sal dit afbreek in die grond en die waterhoudende eienskappe van die grond sal verbeter terwyl dit ook voeding vir die grond voorsien.  In geval van dringendheid, kan jy net ‘n bakkievrag met leemgrond elders gaan haal en by jou sandgrond inmeng.  Ek stel egter nie voor dat kleigrond gemeng word met sandgrond nie.  Die kleigrond maak klonte en meng nie goed met die sandgrond nie.

As jou grond egter baie kleiagtig is sal jy iets moet byvoeg om die deeltjies op te breek om sodoende lugspasies te maak.  Kompos sal goed werk maar dit moet van die begin af baie goed ingemeng word by die kleigrond.  My tweede opsie sal wees om sand by te voeg omdat dit ‘n relatiewe goedkoop opsie is om op grootskaal te doen.  Weereens kan versnipperde blaarvullis, fyngekapte hooi of strooi en gesnyde gras gebruik word, maar jy gaan baie meer daarvan nodig hê met kleigrond as wat gebruik was met die sandgrond. Omdat dit stadig afbreek gaan jy ook gereeld die grond moet omspit en meng op ‘n gereelde basis deur die loop van die seisoen, net om te verseker dat alles goed in die kleigrond ingemeng is.  Dit alles terwyl jou plante groei.

Voedingstowwe

Omdat hierdie onderwerp so uitgebreid is, gaan ons dit in die volgende sessie of twee in detail bespreek.  Vir eers is dit net belangrik om te weet dat, alhoewel meeste voedingstowwe natuurlik in die grond voorkom, dit met tyd deur die plante opgebruik word of wegspoel met reën.  In die natuur word hierdie voedingstowwe gedurig vervang wanneer gras, onkruid en plante doodgaan en blare en takke van bome afval en verrot om kompos te vorm. Ons verwyder egter in ons tuine hierdie organiese plantmateriaal (ons pluk die plante om te eet of maak ons tuine “skoon”).  Dus moet die voedingstowwe gedurig aangevul word.  Die goedkoopste manier is om heeltyd kompos by te voeg, so begin so gou as moontlik om jou eie kompos te maak.  Ons sal ook binnekort gesels oor hoe om kompos te maak.

Deur | 2019-01-10T14:13:12+00:00 10 Januarie, 2019|Kategorieë: Ander, Voorbereiding|