Met die huidige situasie van onstabiliteit in ons land, moet ons reg wees vir amper enige gevaarlike situasie wat mag opduik.

Alhoewel ons redelike gevestigde roetes het, het ons nog nie voorheen ‘n aandroete oefening aangepak nie. Om in die donker op ‘n vreemde twee-spoor plaaspaadjie te ry sonder om te weet hoe die padoppervlakte vorentoe lyk, is ‘n baie groter uitdaging as om dit in die daglig te doen.

‘n Onttrekkingssituasie in die nag, verg ekstra konsentrasie en bewustheid vir moontlike gevare aangesien sig beperk is, en dit ‘n groot invloed op reaksietyd kan hê. Die ervaring was heeltemal anders as in die dag, en ons het baie geleer met hierdie nagoefening.

Ons het ook van die geleentheid gebruik gemaak om ons konvooi se verkenningsvermoë uit te brei deur 2 verkillende hommeltuie (drones) uit te toets gedurende ons dag- en nag roeteoefeninge. Die gebruik van radioafstandbeheerde hommeltuie kan ‘n baie effektiewe en waardevolle rol speel om lewens te spaar in ‘n onttrekkingssituasie of area beveiliging. Die risiko vir lewensgevaar met gebiedsverkenning en beveiligingspanne, verminder eksponensieël.

Die reikafstand met ‘live feed’ is ongeveer 7km. Met ‘n bietjie IT kennis was ons in staat om die ‘live feed’ beeldmateriaal van die hommeltuie te deel met almal in die konvooi – almal kon op hul selfone en tablette volg wat die vlieёnier sien. Dit maak die konflikvoorkomingsmoontlikhede vir ‘n konvooi- of gebiedsbevelvoerder net soveel meer.

Almal het die oefeninge geniet en baie daaruit geleer. Die moontlikhede, asook beperkings van hommeltuie kan nou in ag geneem word in ons toekomstige beplanning en van ons leiers het nou bietjie ‘huiswerk’ om te gaan doen.

Dewet Erasmus