Ons geloof en toewyding sal, soos goeie nuus, vir ander aantreklik en aansteeklik wees. Dit is wat die Vader sal behaag.

Eseg 22:30,31: “Ek het iemand tussen hulle gesoek wat ‘n muur sou bou en vir die stad in die bres sou tree dat dit nie vernietig sou word nie, maar ek het niemand gekry nie. Daarom laat ek my toorn oor hulle losbreek…

Ek lees van ‘n vrou, Diane, wat aan veelvuldige sklerose gely het: “Sy draai haar kop effens na ‘n kurkbord teen die muur. Haar oё neem elke vasgesteekte kaartjie waar, elke foto, elke flentertjie papier netjies in ‘n ry vasgesteek. Sy bid. Sy is vol vertroue dat haar lewe betekenis het” So skryf Joni Eareckson Tada in haar boek ‘Glorious Intruder’

Deur gebed en voorbeeld kan ons indring in mense se lewensomstandighede. Ons kan ook ‘glorious intruders’ wees. Ons kan in die voorste linies veg om mense te ondersteun. Ons kan vir so baie in die bresse tree. Ons kan mure bou. Bid ‘n heining van doringtakke om ‘n sondige, ongelowige persoon soos in Hos 2:6. Dit is ‘n geestelike wapen.

Ons is onuitspreeklik bevoorreg om die Vader se boodskap te verstaan, dit te aanvaar en uit te leef. Dan sal ons lewens getuig van die waarheid. Ons geloof moet praat, ons gesindheid moet mense verander. Kol 4:2: “Volhard in die gebed! Wees daarby waaksaam en dankbaar.

Hoe hartseer dat die Here in Esegiёl 22:30 sȇ: “…maar Ek het niemand gekry nie.” As ons geestelike ore oop is sal ons hoor en besef dat Jes 49:5b vir ons elkeen bedoel is: “…Die Here het my ‘n belangrike opdrag gegee en my God gee my die krag om dit te doen.”

Ons moet nooit iets afwater wat oneindig heilig is nie. Pasop, die wȇreld doen dit! Ons hoor disrespek in die loopgange, oor die TV – orals! Vloekwoorde, ongeloof, spot, verdraaide menings en vele meer. Goed wat vir ons heilige grond is word lasterlik misbruik. Eseg 22:26: “…hulle maak nie onderskeid tussen wat gewyd en wat nie gewyd is nie, en hulle ken nie die onderskeid tussen rein en onrein nie.” Ps 147:11: “Maar Hy stel prys op die wat Hom dien, dié wat hulle hoop vestig op Sy trou.” Vers 13,14: “Hy het die sluitbalke van jou poorte sterk gemaak, jou inwoners geseёn, Hy het in jou grondgebied vrede gegee…”

Ook Ps 33:18

Groete van grondgebied tot grondgebied

Anen