Die boek “The President’s Keepers” het letterlik die liberale gemeenskap aan die gons. Jacques Pauw gee in hierdie skrywe gedetailleerde inligting rakende die korrupsie waarteen die behoudende gemeenskap alreeds ‘n dekade voor ’94 begin waarsku het.

Die ironie hiervan is dat dieselfde bende wat hom vereer vir hierdie werk, die Max du Preezs, Piet Croucamps, en dies meer, ons oortuig het om die ANC as regering oor ons aan te stel. Vryheidsvegters is wat hulle hulself toe genoem het. Sonder om te blik of te bloos of ‘n greintjie erkenning, stel hulle mekaar nou weer voor as die helde van die dag. ‘n “Brawe man”, ‘n “raakvatter,” – dis die name waarmee hy vereer word.

Die kort en die lank hiervan is dat hierdie toestande waarop liberales nou kapitaliseer, toestande is waarteen behoudendes gewaarsku het. Toe was ons die verkramptes.

Vandag is die behoudende gemeenskap se fokus op hulself. Hul fokus op voorbereiding, hul fokus op eensgesindheid, hul fokus op weerbaarheid, hul fokus op die geestelike. Dit terwyl die liberales nie genoeg kan beskuldig, baklei, kla en dweep oor die toestande wat hulle so ywerig voor geveg het nie.

Wie is nou die verkramptes?