rewolwerIn die vorige deel het ons bespreek hoe om bevoegdheid by die staat te ontvang om sodoende aansoek te kan doen vir ‘n wettige vuurwapen lisensie.

In hierdie deel bespreek ons hoe om aansoek te doen vir ‘n wapen wat nie spesiale status soos toegewyde sportskut of jagter nodig het nie (semi-outomaties).

Alvorens u vir die vuurwapen lisensie kan aansoek doen, moet die vuurwapen eers by ‘n handelaar aangekoop word, behalwe in uitsonderlike gevalle waar die wapen bv. ‘n erfstuk is wat u op u naam wil lisensieër. Die proses is baie dieselfde en daarom bespreek ons dit asof u ‘n wapen by ‘n winkel koop.

‘n Goeie ding van die wapenbedryf is dat sodra mens ‘n wapen by ‘n handelaar gekoop het help hulle gewoonlik ook graag met u lisensie. Daar is ook konsultante wie u kan betaal om die totale proses namens u te hanteer. Dit word sterk aanbeveel om so iemand aan te stel. Die SAPD kan vir ‘n enige klein fout op u aansoek dit afkeur. Maar dit is baie skaars vir die SAPD om ‘n lisensie aansoek wat volledig ingevul is met alle nodige dokumentasie te weier. Sulke konsultante het gewoonlik ‘n 99% slaagsyfer, u handelaar behoort u te kan help met die kontakbesonderhede van konsultante in u omgewing.

Na u dan op ‘n wapen besluit het en hom by die handelaar gekoop het sal die handelaar vir u ‘n SAPD 271 vorm gee met die handelaar gedeelte klaar ingevul. Die handelaar sal die wapen hou tot u u lisensie gekry het. U kan ‘n instruksie lys vir die invul van die vorm hier  aflaai. Die handelaar moet ook ‘n bewys van betaling saam gee.

In afdeling D (TIPE AANSOEK OM VUURWAPEN(S) LISENSIE TE BESIT) van die SAPD 271 sal u sien is daar verskillende soorte lisensies waarvoor aansoek gedoen kan word. Die soort aansoek hang van u soort vuurwapen en/of motivering waarvoor u die wapen wil besit. Hier word bespreek hoe om aansoek te doen vir ‘n wapen vir selfverdediging en aansoek vir geleentheidsjag en/of sportskiet.

U kan vir drie soorte wapens ‘n selfverdedigingslisensie kry: Pistool, Rewolwer en Haelgeweer. Dit is belangrik dat die motiveringsbrief wat u dan vir die aansoek aanheg spesifiek motiveer waarom ‘n wapen vir u nodig is vir selfverdediging. ‘n Baie goeie templaat van ‘n selfverdediging motiveringsbrief kan hier afgelaai word. Lees dit aandagtig deur en wees deeglik met u motivering. Gee eerder te veel informasie as te min. Verduidelik u area se misdaad statistiek en die aard van u huis se sekuriteit.

In die geval dat u die aansoek doen vir geleentheidsjag en/of sportskiet kan u die aansoek doen vir ‘n Rewolwer, Haelgeweer en ‘n Slotaksie geweer. Weereens moet daar deeglik gemotiveer wees dat u wel per geleentheid jag of nie. Dieselfde motiveringsbrief templaat kan aangepas word vir die doel. Dit is ook goed om so twee verwysingsbriewe van mense wat jou goed ken en kan bevestig dat jy per geleentheid jag of sportskiet.

Vir u aansoek moet u ook ‘n kluis hê. Op die vorm noem dit dat u 14 dae vanaf inhandig het om ‘n gepaste kluis te installeer. Maar dit is beter om voor die inhandig van u lisensie klaar die gepaste kluis te hê om die aansoek te bespoedig.

Dit moet ‘n SABS goedgekeurde kluis wees en goed weg gesteek wees in ‘n kas waar dit aan die muur en die grond vas gemaak is met ‘rawl bolts’. U moet fotos neem van die kluis en hoe dit vasgemaak is en dit met beskrywings aan u aansoek aanheg. Daar is ook ‘n kans dat die kluis dalk geinspekteer gaan word. Wyl hulle skaars inspekteer is dit belangrik om beskikbaar te wees sou die SAPD besluit om ‘n kluis inspeksie te doen want mens weet nie hoe lank hulle sou wees voor hulle weer ‘n afspraak vir ‘n inspeksie sou maak nie. Daarom moet u fotos van hoë gehalte wees sodat die SAPD sal voel dis nie nodig nie.

Vir ‘n handwapen kan u ‘n klein kluis installeer maar dit is ‘n goeie plan om eerder ‘n lang kluis van die begin af in te sit, sou u later groter wapens aanskaf.

Om deel te wees van ‘n skietklub, sal ook punte tel met u aansoek. Ons stel National Hunting and Shooting Assosiasion (NHSA) voor. By hulle kan ‘n endossement gekry word vir u wapen vir die doel waarvoor u dit aanskaf. Die koste om ‘n lid te wees is R500 p/m. By die NSA kan lede ook spesiale statusse ontvang om sodoende meer wapens en semi-outomatiese wapens aan te skaf. Die proses sal in ‘n volgende deel bespreek word.

U benodig die volgende vir ‘n vuurwapen lisensie:

  • Volledig met swart ink ingevulde SAPD 271 vorm. Ook die handelaars gedeelte.
  • Gesertifiseerde kopie van ID.
  • Twee kleur paspoort fotos niks ouer as drie maande nie.
  • Gesertifiseerde kopie van bevoegdheidsertifikaat.
  • Gesertifiseerde kopieë van u opleidingssertifikate soos by opleiding skool ontvang.
  • Toepaslike bewys van adres soos ‘n elektrisieteitsrekening nie ouer as 3 maande nie.
  • In die geval van geleentheidsjagter of sportskut moet ‘n brief van iemand wat bevestig dat u per geleetheid jag of sportskiet aangeheg wees.
  • ‘n Volledige breedvoerige motiveringsbrief.
  • Goeie volledige beskrywing van u kluis met fotos.
  • Indien van toepassing, ‘n goeie duidelike beskrywings van wettige vuurwapens in u besit.
  • Aansoek fooi van R140

Ander belangrike dokumentasie vir u aansoek:

  • Verwysingsbriewe van prominente mense in u gemeenskap wat getuig van goeie karaktereienskappe – jagters, dominees, polisiekaptein, ens.
  • Bewys van betaling van die vuurwapen/s
  • Details en beskrywings van enige vorige opleiding of ondervinding in die veilige hantering van ‘n vuurwapen.

Soos met alles in die lewe help netheid en deeglikheid. Maak seker u aansoek is netjies en maklik om te evalueer. Dit moet vir die beampte wat u aansoek hanteer so maklik moontlik wees. Die aansoek moet netjies gebind wees met inhoudsopgawe en bladsy nommers. Maak ook seker om kopieë van die totale aansoek te maak omdat dit per geleentheid deur die SAPD verplaas word.

As ‘n vuurwapen aansoek reg gedoen word word dit baie min afgekeur.

Bly wettig. Volgende meer oor spesiale statusse soos Toegewyde jagter en/of Sportskut.