Wat Sal Jesus Doen

Om soos Jesus te wees – gelykvormig aan Hom.

Shoe! Kan nie! Ja, ons kan. Dis verseker ‘n proses. Soos ‘n baie gladde modderige berg wat ons moet uitklim. Maar die liefdevolle helpende hande van ons Vader is altyd teenwoordig en gereed om ons te help.

Ons kry mense langs die pad wat moeg en moedeloos geword het, soms kleef hulle verbete aan grashalms vas en die voete soek vastrapplek. Hier kom praat die Vader met ons oor broederlike liefde. Al het ons dalk al bietjie hoër geklouter, was ons al op daardie plek. En al voel ons nie altyd die liefde nie, gaan dit nie oor gevoelens nie, maar wel oor geloof in ons Vader en Sy opdragte.

Spreuke 4:13 (Kom sê vir almal wat gly) “Hou vas aan wat Ek jou leer, moet dit nie laat los nie; bly daarby, want dit is jou lewe.”- ook Openbaring 3:10-11

Jesus wys telke male Sy broederlike liefde. In Joh 13:1-17 het Jesus self Sy dissipels se voete gewas. Om ‘n Christen te wees maak ons nie beter as ander mense nie, maar wel beter af want ons gaan die vrugte van ons gehoorsaamheid pluk.

Weet ons regtig wat die Vader vir ons begeer? Rom 8:29: “Die wat Hy lank bestem om gelykwormig te wees aan die beeld van Sy Seun, sodat Sy Seun baie broers kan hê. Van wie Hy die Eerste is.

Die Woord praat van twee soorte gelykvormigheid. Ons kan gelykvormig wees aan die wêreld of aan Jesus Christus. Die een dryf die ander uit. Die wêreldse gelykvormigheid kan deur Jesus verdryf word.

Twee dinge is nodig om Jesus se voorbeeld te volg. ‘n Duidelike insig dat die Vader dit vir my wil hê, en ‘n vaste vertroue dat ek dit kan bereik.

Gelykvormigheid aan die wêreld word versterk deur assosiasie met die wêreld. Pasop vir hierdie een! Die Satan swaai hier die septer en hy gebruik alles: koerante, boeke, die TV, films, maats, ens. “Ag dis maar ok – almal doen dit!” -wat ‘n kragtige leuen! Elkeen sal maar sy eie pakkie dra.  En ons kinders drink ons voorbeeld in – en gaan dit navolg.

Naslaanwerk: Joh 6:57; 1 Joh 2:5-6; 1 Joh 4:17; Luk 24:16-25 en vele meer.

Baie liefde en ondersteunende gebed,

Anen

Deur | 2018-10-21T15:32:57+00:00 21 Oktober, 2018|Kategorieë: Geestelik, Hoekom Suidlanders|